Versoening en Restourasie
 
Afrikaners beleef sedert 1994 ernstige trauma. Sedert die oorname van ons land deur die ANC het ons die politieke mag basis, wat ons sekuriteit vir soveel jare was, verloor. In plek daarvan het vrees en onsekerheid gekom en honderde duisende het die land verlaat. Soos die tyd aangestap het vrees en onsekerheid plek gemaak vir haat en woede oor die onbeholpenheid van ons huidige regeerders. Korrupsie in regerings geledere, grootskaalse diefstal van belasting geld deur amptenare, kommunistiese infiltrasie van die regering en die ineenstorting van infrastruktuur, misdaad en plaasmoorde het die Afrikaner tereg laat uitsprake maak wat getuig van afsku en minagting vir ons Regeerders. Jy hoef net die kommentare in die Afrikaanse dagblaaie te lees om te sien hoe erg hierdie houding jeens die regering is – maar is dit reg?

Die Afrikaner beskou homself as Christen en roem daarop dat hy die enigste ware God, Vader, Seun en Heilige Gees aanbid, wat beteken dat ons die gesag van die Bybel as die geopenbaarde wil van God vir ons as volk aanvaar. Is dit so? Ja, ek glo dat die meerderheid van ons ernstig is om God se wil te soek en te doen. Daar is wel verskillende denkrigtings en dogmatiese oortuigings onder ons, maar ongeag wie reg of minder reg is, is dit my oortuiging dat die meeste van ons opreg in ons soeke en oortuigings is. Maar wat sê die Bybel, God se Woord, hoe ons as ’n volk teenoor die regering en ons regeerders moet optree?

Rom 13 is baie duidelik hieroor. “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel, sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang.

Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte. Maar wil jy die mag nie vrees nie, doen wat goed is, en jy sal lof van hom ontvang; want hy is ‘n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ‘n dienaar van God, ‘n wreker om die een wat kwaad doen, te straf. Daarom is dit noodsaaklik om jou te onderwerp, nie alleen ter wille van die straf nie, maar ter wille van die gewete.” (Rom 13:1-5)

Hierdie is onweerspreeklik God se wil vir ons as Afrikaners – ons kan nie daaroor verskil nie, wat ook al jou dogma is, jy moet erken hierdie is God se wil en moet ons gesindheid in lyn hiermee kom. Vir ’n Afrikaner is hierdie nie maklik nie en sal hy ’n paar dode moet sterf om hierby uit te kom. Jy sien, ons het die regering wat ons het verdien! Die magsmisbruik, onderdrukking, arrogansie en goddeloosheid wat ons die afgelope 350 jaar gesaai het, het ons ingehaal – ons is die afgelope 16 jaar aan die ontvangkant en lyk die toekoms vir ons nie baie goed nie. Dreigende onteiening van plase en die oorname van banke en myne deur die regering wat daar in die parlementêre wandelgange te hoor is, hou vir ons niks goeds in nie.

WAT STAAN ONS TE DOEN?
• Ons moet uitvind wat God se wil is en dit begin doen en hier het 2 Kronieke 7:14 ’n duidelike antwoord: “...en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.” Dit beteken ons as Afrikaners moet ten eerste ons vyandigheid teenoor die regering laat staan.


• Ons moet aanvaar dat Suid-Afrika nie langer eksklusief die wit man se land is nie, maar dat Suid-Afrika aan al die verskillende etniese groepe behoort. Dit is ’n feit en moet ons ophou om dit te ontken. Ons moet erken dat die meerderheid mense in Suid-Afrika die ANC gekies het om die land te regeer en ons daarby berus.

• Maak vrede en vind vrede binne jouself vir die huidige situasie. Hoe erg hierdie situasie ook al is, jy sal moet berusting en vrede vind in die feit dat die huidige regering deur die Here oor ons aangestel is.

• Die opstand wat jy teenoor hulle in jou harte dra, maak dat jy onder God se oordeel kom. “...en die wat daar is, is deur God ingestel, sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang.” (Rom. 13:2) Is dit nie dalk die rede vir sommige van die plaasmoorde nie?

• Jy hoef nie met die regering saam te stem nie, maar moet hulle erken as dienaars van God en dus deur Hom aangestel is. Hy sal op Sy tyd met al hulle bedrog, diefstal en korrupsie deel. Dit is God se werk, nie joue nie.

 
• Hou op om hulle te vervloek en slegte dinge oor hulle te sê. Hierdie mense hoor en lees wat ons oor hulle sê en raak net meer vyandig teenoor ons – ons kwetsende woorde maak hulle seer en skep wraak in hulle harte wat een of ander tyd tot uitbarsting kan kom. Praat van God se wil, hoor hierdie een: “Herinner hulle daaraan om onderdanig te wees aan owerhede en magte, om gehoorsaam te wees, bereid tot elke goeie werk; om niemand te belaster nie, nie strydlustig te wees nie, vriendelik te wees en aan alle mense alle sagmoedigheid te bewys.” (Tit 3:1-2 ) God se wil is nie vir papbroeke nie.


• Bid vir die regering en moet hulle nie vervloek nie – jou vervloeking maak dat die duiwel homself die reg toeëien om ons regeerders verder te verswak en allerhande verkeerde dinge in hul ore te fluister. Vir drie jaar het die Heilige Gees vir die kinders van die Here in Zimbabwe gesê om vir hulle regering te begin te bid. Hulle het dit nie gedoen nie en het die duiwel deur monde van sangomas en war veterans in Mugabe se ore begin te fluister. Die toestand in Zimbabwe kan toegeskryf word aan die biddeloosheid van hulle wat daarop aanspraak gemaak het dat hulle die ware evangelie het. “In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid. Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser,” (1Tim 2:1-3)I Gebed beskerm ons manne en vroue in regering posisies.

• Erken en aanvaar President Jacob Zuma as die President van Suid-Afrika en betoon eerbied aan hom. Moenie na sy lewe kyk nie, kyk na die gesag posisie waarin God hom aangestel het. Bid dat sy ore toe sal wees vir die stem van die bose en sy hart oop vir die Heilige Gees. “Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.” (Spreuke 21:1)

•  Ondersoek jou hart en deel met alle vorme van rassisme. Hier het jy die genade van die Here nodig, want om jouself as beter as ander te beskou, is so deel van die Afrikaner kultuur – dit het deel van ons DNA geword en is dit net die Heilige Gees wat jou daarvan kan verlos. Die militante en radikale element onder swart mense is in die minderheid. As Afrikaner het ons saam met hulle grootgeword en sal jy met my saamstem dat die meerderheid van hulle goedhartige mense is. Dit is ook nie net wit mense wat in misdaad die slagoffer is nie, swart mense ly geweldig onder misdaad in die townships en plakkerskampe. Dit is daar waar jy kinders van die Here op hul knieë sal vind, besig om te bid vir beskerming en oorlewing.

• Kyk terug oor ons geskiedenis heen en jy sal vind dat ons as wit mense ’n groot en belangrike deel was van die opbou van hierdie land, maar wees eerlik genoeg om te sien dat ons dit nie sonder swart en bruin hulp kon gedoen het nie. Miskien as ons almal eerlik genoeg kan raak, sal die vennootskap wat altyd daar was, nou sinvol verder gevoer kan word. Elkeen van ons, swart, bruin of wit, het gawes van God ontvang en wanneer ons hierdie Goddelike gawes aanwend om mekaar te dien, sal Suid-Afrika die model land wees waarmee die Here self met trots kan spog. Mag Hy ons geestelike oë open sodat ons kan verootmoedig voor Hom en Hy ons land kan genees.





Leave a Reply.

    PAULUS

    Ek en my vrou Retha is gebed-koödineerders en betrokke in geestelike versoening-aksies tussen volkere. "Gaan dan heen en maak dissipels van alle nasies..." 

    Ons is woonagtig op Mosselbaai aan die Suid Kaap en reik van hier uit onder die naam
    "Mosselbaai Huis van gebed vir die Nasies."





     

    Archives

    November 2010
    February 2009
    January 2009

    RSS Feed