Versoening en Restourasie

KHOI VERSOENING - SLAWEHUIS KAAPSTAD


                                                SLAWERNY AAN DIE KAAP


Met die vestiging van die Kolonie aan die Kaap deur Jan van Riebeeck, is die geskiedenis van hierdie deel van die vasteland onherroeplik verander. Die eerste plaaslike inwoners wat hy hier gevind het was lede van die Khoikhoi stam – vredeliewende nomadiese boorlinge wat in vrede met hulself en hul bees en skaapkuddes geleef het. Met die groei en uitbreiding van die Hollandse Oos Indiese Kompanje het van Riebeeck, om tred te hou met die tekort aan arbeid, slawe begin invoer. Hierdie manne en vroue, wat hoofsaaklik vanaf Indië, Indonesië, Malasie en verskeie Afrika lande af ingevoer is, was in ‘n slawehuis, genoem “The Lodge,” aangehou. Hierdie lodge was dan ook gebruik vir die aanhouding van misdadigers en geestelike versteurdes en was op ‘n stadium een duisend in getal sterk. Tereg het iemand hieroor geskryf en dit “a Place of human misery in the centre of town” genoem.

 

 Die Lodge was saans vir ‘n uur oopgestel aan verbygaande blanke matrose en het hulle hier besoek afgelê om hul seksuele behoeftes te bevredig – die slawehuis het ‘n bordeel geword. Van Riebeeck en sy makkers van die Kompanje was die eerste Vrymesselaars in Suid-Afrika en is dit my oortuiging dat die slawehuis ook hulle eerste lodge was, vandaar die naam “Lodge.” Die personeel van die Kasteel het dan ook die slawehuis besoek om uiting te gee aan hul perverse seks drange. Die slawevroue het hul liggame laat misbruik in die hoop dat indien hulle ‘n kind van ‘n blanke die lewe kan inbring, hulle daardeur vrygestel sal word van slawerny. Met die geboorte van hierdie kinders het die slawe eienaars meer geld vir die ligter kleur kinders op die slawemark gekry, en het van die vryburgers doelgerig begin kinder’s verwek by hul slawevroue. Hulle het sovêr gegaan om selfs kinders by hierdie kinders te verwek om sodoende ‘n meer ligter kleur te bekom. Die slawerny het ontaard in prostitusie en vêrder verval in bloedskande. Jan van Riebeeck het die posisie vêrder laat versleg deur aan die slawekinders pruim tabak en brandewyn te gee om die Christelike opvoeding waarmee hy hulle probeer opvoed het, meer lewendig te maak. Dit is waar die dopstelsel vandaan kom. Hy het dus verslawing by al hul ellende kom voeg.

                                               ‘N UNIEKE VOLK ONTSTAAN

Met beperkings op die internasionale slawemarkte, het van die vryburgers en grondeienaars in hul soeke na arbeid die Khoikhoi geneem en onder dwang hul vryheid ontneem en diensbaar gemaak. Die vermenging tussen die wit vryburgers, die Khoikhoi en die reeds vermengde slawe van die lodge, het ‘n unieke bruin volk tot gevolg gehad en sien ons baie van hulle vandag nog vasgevang in die sondes van die voorgeslagte. Deur die slawehuis en die onregte wat van daar uitgevloei het is ‘n onheilige fondasie gelê waarvan ons tot vandag die effekte voel. Die unieke volk wat daaruit voorgekom het, is gevorm deur onreg, maar is dit juis hulle met wie God ‘n besonderse plan het. Hulle is die mense na wie God die Oos Duitse sendeling, George Smit van die Morawiese sending, gedurende 1736 gestuur het met die opdrag: “Go to the Hottentot people of South-Africa, for they are the people I have formed for Myself to declare My glory.” 

 Ons Bruin mense is, net soos Israel, deur slawerny tot ‘n volk gevorm, maar is ‘n volk sonder identiteit. Die een sonde van ons voorgeslagte wat uitstaan, is dat ons hierdie kosbare mense beroof het van hul identiteit, en lê die slawerny waarin ons hulle gedompel het, nog vars in hul harte. Die HERE het my die opdrag gegee om betrokke te wees by die regstel en herstel hiervan en is die enigste Goddelike manier van regstel die vra van vergifnis. Ons het die vryspraak van die nakomelinge vanuit die slawerny nodig om herstel vir hulle te bring. Die vloek van verslawing, bloedskande, verkragting en bende-bedrywighede moet van hulle gelig word en kan slegs deur die versoening van die verlede gebeur. Hulle is die mense wat kan meehelp om ons land weer stil en rustig te kry, stil en rustig soos Jan van Riebeeck dit hier gevind het. Ons land het herstel nodig en die eerste volkere; soos die bruin mense of Khoikhoi, dra ‘n geestelike mandaat wat uniek is en hou hulle die sleutel tot herstel en versoening tussen al ons etniese groepe. 

                                           DIE SONDES VAN ONS VADERE VERSOEN

Saterdagmiddag 9 Augustus 2008, om 13h00 het ons hiermee gedeel en die fondasie van die vorige geslagte herstel. Omdat hierdie misdaad van slawerny deur die destydse Goewerneur aan die Kaap, Jan van Riebeeck gepleeg en goedgekeur was, moes hierdie saak reggestel word deur die goedkeuring en betrokkenheid van die huidige Goewerneur van die Kaap. Me Helen Zille, Uitvoerende Burgemeester van die Kaap het saam met verteenwoordigers van verskillende politieke partye en Afrikaner nasate van die destydse eerste burgers aan die Kaap, ‘n versoenings byeenkoms in hierdie selfde slawehuis bygewoon. Ons het vir die afstammelinge van die fondasie nasie, die Khoi, kom sê ons is jammer. Ons is jammer ons het hulle grond kom vat. Ons is jammer ons het hulle hul vryheid ontneem. Ons is jammer ons het hulle vroue mishandel. Ons is jammer ons het hulle taal vir ons geneem en nooit aan hulle erkenning daarvoor gegee nie. Ons is jammer ons het hulle van hul Identiteit beroof en hulle menswees nooit erken nie. Mnr. Sydney Opperman bruin DA parlementslid vir Kannaland en geneties verbind aan die Heseqwa, was die programleier en het ons op skitterende wyse in hierdie belydenis ingelei. Hier waar daar vir die afgelope 340 jaar stemme van mishandelde manne, vroue en kinder’s teen die Afrikaner opgegaan het, stemme wat spreek van vervloeking en nie van seën nie, is hier waar ons daardie stemme stil kom maak het. 

 Nadat ons saam met Me Zille belydenis teenoor Bruin en Khoi leiers namens ons voorsate gedoen het, het Mnr. Wesley Douglas, ‘n Bruin parlementslid van die ACDP, ons op besonderse wyse vrygespreek. Bruin en Afrikaner trane het vrylik gevloei. Dit was nie verniet dat hierdie byeenkoms op vrouedag plaas gevind het nie – dit was Heilige Gees gereël gewees. Tydens die byeenkoms was die langverwagte boek “GOD SE PROFETIESE EINDTYD PLAN VIR DIE BRUINMENSE VAN SUIDER-AFRIKA” deur Retha Venter, geloods. Hierdie boek wat sedert 2001 in manuskrip vorm in engels vrylik deur haar versprei was is nou in Afrikaans beskikbaar. Die getuienisse oor die impak wat hierdie boek in mense, opsoek na identiteit, se lewens het, is oorweldigend en ‘n moet vir die wat nie weet waar hulle vandaan kom, of waarheen hulle oppad is nie! Die sluiers is gelig en is die pad vorentoe besaai met vooruitsigte van herstel en genesing vir beide hierdie volksgroepe.

Tel. 044-692 0547
Cel. 084 707 2507 / 072 3456 506
[email protected]

Uitvoerende Burgemeester van Kaapstad Helen Zille in versoening

Me Helen Zille omhels 'n bruin vrou tydens die versoenings byeenkoms wat in die ou slawe huis gehou was


Intersessors tydens die versoenings byeenkoms in die Kompanje tuin en Slawe huis