Versoening en Restourasie
 

IN DIENS VAN DIE HEILIGES

DEUR PAULUS

 

“Maar nou reis ek na Jerusalem in diens van die heiliges. Want Macedónië en Acháje het dit goedgevind om iets by te dra vir die armes onder die heiliges in Jerusalem. Hulle het dit goedgevind, sê ek, en hulle is ook hul skuldenaars; want as die heidene deel gekry het aan hulle geestelike voorregte, is hulle ook verskuldig om hulle met stoflike goedere te dien.” (Rom. 15:25-27)

 Paulus, reis in diens van die heiliges na Jerusalem. Hierdie vername apostel plaas homself in die nederige posisie van dienskneg wees. Hy regeer nie deur krag en gesag nie, maar beklee homself in die gewaad van diensbaarheid. Hy maak nie soos hedendaagse apostels en eis sekere voorregte vir homself op nie. Hy maak nie aanspraak op tiendes en offergawes ter wille van sy bediening nie. Hy vra nie vir die beste akkommodasie in die dorp nie. Hy verwag nie daar moet vir hom ’n reeks dienste gereël word waar hy sy kragtige bediening kan vertoon nie.

 Nee, Paulus kom as dienskneg in diens van die arm heiliges in Jerusalem. Hy kom vra nie geld nie, hy bring geld wat die in Macédonië en Acháje vir hulle ingesamel het. Hierdie gawe is vir die armes onder die kinders van die Here en bring hy so verligting vir hulle. Hierdie gawe het die Macédoniërs en die in Acháje uit erkenning aan die in Jerusalem gestuur – erkenning dat die evangelie vanaf die heiliges in Jerusalem na hulle gekom het. Hulle besef hulle is skuldenaars aan die broeders in Jerusalem en het Paulus dit so aan hulle voorgehou. Hy het hulle geleer dat die een wat aan jou die geestelike bring, ’n reg het op jou stoflike, die finansiële: “want as die heidene deel gekry het aan hulle geestelike voorregte, is hulle ook verskuldig om hulle met stoflike goedere te dien.”

 Paulus skryf vêrder daaroor in 2 Kor. 9 en verduidelik hy die gevolge van so ’n eerbare daad. “Want wat die diensbetoning aan die heiliges betref, is dit vir my oorbodig om aan julle te skrywe.” (2Kor. 9:1) (die stuur van geld noem hy ’n diensbetoning aan die armes in Jerusalem, m.a.w. ’n bediening.) “Want ek ken julle bereidwilligheid waarop ek oor julle by die Macedóniërs roem, dat Acháje ‘n jaar gelede gereed was, en dat die ywer wat van julle uitgegaan het, baie ander aangespoor het.” (2Kor. 9:2) Dan beskrywe hy die loon van sulke diensbetoning: “Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai. Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief. En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk. Soos geskrywe is: Hy het uitgestrooi, hy het aan die armes gegee, sy geregtigheid bly tot in ewigheid.” (2Kor. 9:6-9) (die uitstrooi van hulp aan armes is ’n daad van ewige geregtigheid.)

 Hierdie diensbetoning het ’n wonderlike gevolg in die harte van hulle wat finansieel swaarkry – dit vul hul harte met dankbaarheid en hulle sing lofsange aan die Here vir Sy goedheid. “Want die bediening van hierdie hulpbetoning voorsien nie alleen in die behoeftes van die heiliges nie, maar is ook oorvloedig deur baie danksegginge aan God,” (2Kor. 9:12) Wanneer jy aan iemand, ’n broer of suster goed doen wanneer dit finansieel met hulle swaar gaan, is Prys die HERE, die eerste woorde wat diep uit hulle harte kom. Jy skep dus dankbaarheid in hul harte en dit is hier waarin Hy verheerlik word. God is gelukkig wanneer ons Sy goedheid raaksien en uit dankbaarheid aan Hom lof bring. Die bedienaar en gewer van hierdie gawe se seëning lê daarin dat Jesus sê dit is saliger om te gee as om te ontvang. Die gevolg hiervan, wanneer jy dit in blymoedigheid gee, is dat God jou liefhet en op alle gebiede oorvloediglik sal vergoed.

 ONS VERANTWOORDEKIHEID TEENOOR JERUSALEM
Onder die ou verbond moes al die mans drie maal ’n jaar op ’n aangewese plek voor die HERE verskyn. Hulle kon ook nie met leë hande kom nie, maar moes iets in hul hande gehad het – hulle moes ’n offer bring. Hierdie offers was vir die weduwee, vreemdeling en Leviet in die poorte. “Drie maal in die jaar moet al jou manne voor die aangesig van die HERE jou God verskyn op die plek wat Hy sal uitkies; op die fees van die ongesuurde brode en op die fees van die weke en op die huttefees; en hulle mag nie met leë hande voor die aangesig van die HERE verskyn nie; elkeen volgens die gawe van sy hand ooreenkomstig die seën van die HERE jou God wat Hy jou gegee het.” (Deut. 16:16-17) Die manne moes tydens Pasga (paasfees), Shavuot (pinkster) en die Loofhutte fees voor die HERE verskyn met ’n finansiële offer in hul hande.

 Die eerste sendelinge, die twaalf apostels, was Jode vanuit Jerusalem wat die evangelie aan ons as heidene gebring het. Hierdie eerste sendelinge het almal met hul lewens geboet en het God verheerlik deur ’n martelaars dood te sterf. Ons is dus hulle skuldenaars – ons skuld hulle iets. Ons het ’n verantwoordelikheid teenoor Israel en veral teenoor die gelowiges met wie dit swaar gaan, veral in hierdie tyd waar die hele wêreld besig is om teen hulle te draai. Ons vanuit die heidense nasies moet hierdie verantwoordelikheid opneem en uit dankbaarheid teenoor die HERE, hierdie uitverkore volk ondersteun met dit waarmee Hy ons geseën het. Ons kan gerus die voorbeeld volg en op hierdie drie feeste op Berg Sion (Moria) voor die HERE met ons offers gaan staan en dit daarna uitdeel aan gelowige Joodse broeders wat ywer vir die Koninkryk van God. Die altaar wat Abraham daar opgerig het as getuienis van God se getrouheid word genoem: “Op die Berg van die HERE sal voorsien word.” Hierdie altaar spreek steeds hiervan en wanneer ons die gelowige Joodse broers en susters in Israel met ons finansiële offer gaan bedien, sal die HERE oorvloedig aan ons voorsien.

 Vir Jesus is hierdie verantwoordelikheid en ons gesindheid teenoor Israel so belangrik, dat Hy die skape en bokke onder die nasies van mekaar gaan afskei en, of gaan beloon, of gaan oordeel: “Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom. Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee? En wanneer het ons U ‘n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee? En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom? En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sovêr julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.” (Mat 25:36-40) Jesus verwys hiermee na Sy Joodse broers wat in die eindtyd leef, en moet ons hierdie waarskuwing baie ernstig opneem.

 God het ook aan Abraham beloof: “En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.” (Gen 12:3) Israel, die nageslag van Abraham, is deur God as nasie uitverkies as seën vir al die nasies van die aarde en kan nasies alleenlik geseënd wees indien hulle Israel erken en by hulle staan ten tye van moeilike tye. Die seëning of vervloeking van nasies lê in hul verhouding met Israel. Ons het ook die opdrag om vir die vrede van Jerusalem te bid: “o Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. o Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes—moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde!” (Jes. 62:6-7)

 DIE OPHEFFING VAN FONDASIE NASIES – EERSTE VOLKERE
Indien jy ’n seëning vir enige nasie wil wees; moet jou verhouding tot Israel reg wees, want God se seëning na nasies vloei deur Israel.. Jy moet God se plan vir die nasies van die wêreld verstaan en met Hom saamwerk. Die fondasie nasie van ’n land, daardie nasie wat na die verstrooiing by Babel ’n spesifieke erfdeel op aarde aangewys was, se profetiese opdrag word so omskryf: “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie;” (Hand. 17:26-27) Hierdie nasies moes dus in hul aangewese plekke altare van aanbidding vir die Skepper God oprig en so die hemel afbring aarde toe. Hulle het egter daarin gefaal, aanbiddingsplekke vir afgode opgerig en so onder God se oordeel gekom.

 Hierdie eerste nasie se profetiese roeping is om tot seëning van alle nasie te wees. Indien jy geroep is om ‘n kosbare eerste nasie as volk te ondersteun in hul profetiese roeping, is die sinvolste ding om te doen, te ondersoek hoe jy hulle kan help, deur ’n seëning vir Israel te wees. Dit is vanuit Israel as uitverkore eerste nasie, dat die seëning na die nasies sal vloei en vanuit Deut. 16:16-17 is dit duidelik hoe. Gaan met ’n finansiële offer in jou hand na die Berg Sion, daar waar die HERE belowe Hy sal voorsien en ontvang ’n seëning wat jy na jou nasie kan terugbring. God belowe Hy sal jou nie teleurstel in jou verwagting nie en sal ’n oorvloedige seëning op jou en jou besigheid uitstort, sodat jy meer sal hê om in hierdie volk te belê.

"JERUSALEM SHALL COMFORT YOU”
“Rejoice ye with Jerusalem, and be glad with her, all ye that love her: rejoice for joy with her, all ye that mourn for her: That ye may suck, and be satisfied with the breasts of her consolations; that ye may milk out, and be delighted with the abundance of her glory. For thus saith the LORD, Behold, I will extend peace to her like a river, and the glory of the Gentiles like a flowing stream: then shall ye suck, ye shall be borne upon her sides, and be dandled upon her knees. As one whom his mother comforteth, so will I comfort you; and ye shall be comforted in Jerusalem.” (Isa 66:10-13)

 

    PAULUS

    Ek en my vrou Retha is gebed-koödineerders en betrokke in geestelike versoening-aksies tussen volkere. "Gaan dan heen en maak dissipels van alle nasies..." 

    Ons is woonagtig op Mosselbaai aan die Suid Kaap en reik van hier uit onder die naam
    "Mosselbaai Huis van gebed vir die Nasies."





     

    Archives

    November 2010
    February 2009
    January 2009

    RSS Feed