Versoening en Restourasie

BERGKRUINE EN ALTARE

"Al julle bewoners van die wêreld en bewoners van die aarde, as ‘n banier opgehef word
op die berge, kyk! En as die basuin geblaas word, luister!" (Jes. 18:3)

CRADOCK PIEK GEORGE 1578m

Picture
Blaas die basuin op Cradock Piek George
Cradock Piek as deel van die Outeniekwa bergreeks op George staan ook in die Khoi mond bekend as Dik Kop, wat beteken die een wat rigting bied. Hierdie 1578 meter bo seespieël bergkruin is die hoogste piek in die Tuinroete en is baie strategies in geestelike oorlogvoering.

Berge speel 'n belangrike rol in God se ontmoeting met Sy voorste manne en verwys ek na ontmoetings wat Hy gehad het met:
Abraham - Berg Moria, die Tempel Berg in Jerusalem - waar hy 'n altaar gebou en Isak geoffer het, en bekend staan as die plek waar God voorsien. Tans is daar groot spanning tussen die Jode en Arabiese volkere oor hierdie altaar. Die Palestyne soek hierdie middelpunt van die aarde, want hulle besef die waarde van hoë plekke.

Moses - Berg Sinai in Arabië waar God aan die volk Sy heilige verbond die Tien Gebooie gegee het. "En Hy antwoord: Ek sal met jou wees, en dit sal vir jou ‘n teken wees dat Ek jou gestuur het: As jy die volk uit Egipte gelei het, sal julle op hierdie berg God dien." (Ex 3:12)

"Maar Moses het opgeklim na God toe, en die HERE het hom van die berg af toegeroep en gesê: So moet jy aan die huis van Jakob sê en aan die kinders van Israel verkondig:" (Ex 19:3)

Elia - Berg Karmel waar hy 'n altaar gebou en die 400 Baal profete uitgeroei het. "Stuur dan nou, laat die hele Israel by my bymekaarkom op die berg Karmel, ook die vier honderd en vyftig profete van Baäl en die vier honderd profete van Asjéra wat aan die tafel van Isébel eet." (1Kon. 18:19)

Elia - Berg Horeb "Hy het toe opgestaan en geëet en gedrink en deur die krag van die voedsel veertig dae en veertig nagte lank geloop tot by die berg van God, Horeb." (1Kon. 19:8)

Lucifer - die Heilige Berg van samekoms. "En jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde." (Jes.14:13)

JESUS - "En nadat Hy die skare weggestuur het, klim Hy op die berg om in die eensaamheid te bid. En toe dit aand geword het, was Hy daar alleen." (Mat 14:23)

"En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ‘n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide." (Sag. 14:4)

"En ek het gesien, en kyk, die Lam staan op die berg Sion, en saam met Hom honderd vier en veertig duisend met sy Naam en die Naam van sy Vader op hulle voorhoofde geskrywe." (Open. 14:1)

BERGE AS PLEKKE VAN OUTORITEIT: Satan en sy dienaars is nabootsers van die werke van God en wil hulle die hoogste plekke, die plekke waar God met Sy uitverkore dienaars ontmoet het, vir hul eie demoniese aktiwiteite inneem. Hulle beskou die bergpieke as plekke wat deur die gode besoek word, en bou daarom altare daar om krag van hierdie demoniese gode te trek. So is dit algemene gewoonte onder New Agers om die berge as geheel te aanbid en krag daaruit te trek.

In die Outeniekwa bergreeks is daar honderde grotte waar die Khoi Shamans hulle rotstekenninge gemaak het. Die Shaman begin 'n ritueel, genoem die trans dans, waartydens hy in 'n beswyming raak. Sy neus begin te bloei en is dit met daardie bloed gemeng met oker en sekere kruie, wat gebruik word om dit wat hy in die gees wêreld sien, te teken. Hierdie rotstekening is dus altare gewy aan vreemde gode, voorvadergeeste wat aan die stam deur middel van hierdie tekeninge, drome en visioene lyding vir die toekoms moet gee. "Begeef julle nie tot die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waars nie. Soek hulle nie om julle deur hulle te verontreinig nie. Ek is die HERE julle God." (Lev 19:31)

Hierdie altare skakel met ander sataniese rituele soos valse godsdienste ens. Wanneer hierdie gebeur hou dit rampspoedige gevolge in vir 'n stad en dorp. In baie van hierdie berge vind ons rotse wat gesigte uitbeeld en staan hierdie bekend onder die New Agers as "Gate ways." Hulle sien hierdie natuurlike rotskuns as altare waar hulle besoek kan bring om daar geestes krag te ontvang. Sulke aanbidding lok demone wat hulle dan daar vestig. Hierdie word dan 'n "stronghold" vanwaar hulle hul vernietigingswerk onder ons jongmense uitvoer. Misdaad en dwelmverslawing is die gevolg van sulke vestings.  

ALTARE VIR GOD: Tydens geestelike oorlogvoering en intersessie moet daar teen hierdie valse altare opgetree word en dit doen ons deur berge uit te klim en op die hoogste kruine te gaan bid. Ons gaan en proklameer dat: "Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon;" (Ps. 24:1) terwyl ons 'n altaar van gebed en lofprysing daar bou en 'n bybel daar  plant. Die Woord van God kan nie leeg na Hom terugkeer nie en is dit ons oortuiging dat die geskrewe woord van God vanaf sulke altare 24/7 spreek. Die altare wat deur Abraham, Isak en Jakob in die beloofde land gebou het, was klippe wat as getuienis sou dien. Daardie klippe praat nog steeds en getuig van God se geregtigheid. Sê Jesus dan nie: "Ek sê vir julle, as hulle swyg, sal die klippe uitroep. (Luk 19:40) Klippe is nie dooie voorwerpe nie en bevestig die wetenskap die feit dat rots en steen klank kan opneem en bewaar. So is dit ook ons mening dat die blaaie van die Bybel wat in die grond gebêre is, voortdurend getuig. Die getuienisse hieroor is oorweldigend en beleef ons hierdie waarheid in ons bediening aan dorpe in ons omgewing.

GEORGE PIEK 1336,8m

Picture
Blaas die basuin op George Piek
Op dieselfde dag waarop ons Cradock Piek geklim het, het ons George Piek besoek en die Sjofar daar oor George gemeenskap geblaas terwyl ons die grond met olie gesalf het. Die geestelike deure wat daarna oopgegaan het, was 'n bewys dat hierdie soort intersessie kragtig is. Dit was selfs op die politieke terrein voelbaar, maar is die stryd oor George nog nie oor nie. Dit is nou die tyd om voor God te verootmoedig en ons sondes te bely. Die Khoi rots altare is stil gemaak en is dit nou die verantwoordelikheid van die geestelike leiers van George en omliggende dorpe om hierdie intersessie verder en dieper te neem. Die droogte en water tekorte van die Eden Distrik kan sodoende mee afgereken word.

George is die belangrikste dorp in die Eden Munisipale Distrik en indien dit daar nie goed gaan nie, ly die omliggende dorpe. Wanneer sonde soos shamanism, satanisme en watter euwel ook al, nie geestelik gestuit en teëgewerk word nie, kring die sataniese invloede uit en besoedel so die omliggende dorpe. Baie van ons dorpe is afhanklik van reën water vanuit die Outeniekwa berge en wanneer die kinders van God sataniese invloede in hul midde duld en toelaat, baar dit droogte. Daarom is dit belangrik dat die geestelike atmosfeer in die omliggende dorpe skoon en rein moet wees, sodat ons die geestelike leierskap van George in hul stryd kan help.
 
Die woord van die Here wat deur Angus Buchan tot ons gekom het was dat verdeeldheid en liefdeloosheid onder ons die rede is dat dit nie reën nie. Die bose teer op hierdie sonde en hoort ons dit nie langer te duld nie. Nou is die tyd van vasting en gebed en kort ons so 'n dag van verootmoediging vir die Eden Munisipale Distrik. God sal met reën antwoord wanneer ons as kinders van God op so 'n dag Hom nader in skuldbelydenis.

SLEEPING BEAUTY 1337m  RIVERSDAL EN STILBAAI

Picture
Sleeping Beauty Berg
Die bekende berg Sleeping Beauty wat vanaf die N2 vanaf Stilbaai en Riversdal gesien kan word, is een van daardie Gate ways wat deur New Agers en Shamans gebruik word as aanbiddings plek. Hierdie slapende skoonheid is die rede van vele tragiese ongelukke op die N2 in daardie omgewing. Dit is letterlik asof 'n gees van diepe slaap oor motoriste kom en daar afgryslike ongelukke plaas vind. Hierdie altaar gekoppel aan 'n Oosterse meditasie sentrum buite Stilbaai, was 'n sekere resep vir ellende vir die gemeenskap tot ons op 'n dag dat ons daar op geklim en 'n altaar vir God gebou het. Die Heilige Gees het ons met die proklamasie: "Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn. (Ef. 5:14) daar opgestuur. Groot was ons verbasing toe ons die kruin bereik en vind hierdie skrif op 'n rots uit gegraveer. Dit was bloot 'n bevestiging dat ons reg gehoor het. Nadat ons 'n altaar daar op die piek gebou en 'n Bybel begrawe het, het ons hierdie kragtige skrif oor die omgewing uitgeroep en die basuin geblaas.

 Sedertdien het daar 'n kragtige geestelike oplewing op Stilbaai plaas gevind. 'n Paar manne het opgestaan uit die dood en ontwaak uit hul geestelike slaap en begin bid. Hulle kom soggens om 5h00 bymekaar en soek die Here se aangesig. Selfs 'n dominee het in gehoorsaamheid aan die Woord van die Here hom laat doop in water deur onderdompeling. Ons was een oggend tydens so 'n gebed samekoms teenwoordig waar daar, op die dorpsplein van Stilbaai, 'n banier ter ere van die Leeu van Juda - Jesus Christus, gehys was.

Die omliggende dorpe was ook aangeraak en het die manne en vroue van God op die buurdorp Heidelberg, saam met hulle Burgemeester hul dorp aan ons Here Jesus toegewy. Daar was sjofar geblaas, met olie gesalf en baie intersessie vir hul dorp gedoen. Is dit nie nou iets om oor opgewonde te raak nie?

VREYSBERG 1110m HERBERTSDALE

Picture
Aanbidding op Vreys Berg
Herbertsdale lê aan die voet van die Vreys Berg, die hoogste piek in die omgewing vanwaar jy 'n panoramiese uitsig oor het. Hierdie is bergwêreld en moet jy jou klim ken om bo uit te kom. Herbertsdale, 'n vorige sendingstasie genoem na die eertydse sendeling James Benton Herbert, is een van die vorige sendingstasies wat ons besoek het. Nadat ons daar 'n versoening byeenkoms saam met geestelike leiers van Herbertsdale en 'n week van 24/7 gebed saam met gemeentes daar, gehad het, was die klim van die hoogste berg in die omgewing die natuurlikste ding om te doen. Bo op die kruin het ons 'n Bybel geplant, sjofar geblaas en 'n wonderlike tyd van intersessie vir die omgewing gehad. Een van die broers het later getuig dat hy tydens die gebede moes gaan sit het. Die salwing van die Heilige Gees was so sterk dat hy nie langer regop kon staan nie en in aanbidding op sy knieë gedwing was.

Herbertsdale is ook 'n gemeenskap vasgevang in godsdienstige tradisie en verdeeldheid, maar is hierdie aan die verander. Die uitvloeisel van ons altaar bou bo op Vreys Berg was dat die dominee van die dorpie en 'n aantal ledemate gevoel het hulle kan nie langer onder die juk van rituele godsdiens staan nie, en het wegbeweeg vanuit daardie tradisie en hul eie kerk gestig. Hierdie is almal manne wat tydens die Mighty Men konferensie van Angus Buchan deur die Heilige Gees aangeraak was en kon die mure van tradisie hulle nie meer langer gevange hou nie. Geestelike oplewing bring mense altyd in konfrontasie met die tradisionaliste en het jy die keuse om aan te bly en geestelike weer in die dood in te sak, of aan te beweeg en nuut begin. So 'n beweging is 'n pynlike ervaring maar is dit so dat die wat godvrugtig wil lewe vervolg sal word. Dit is in hierdie vervolging deur vorige geesgenote waarin baie geestelike groei lê en die pyn werd wat daarmee saamgaan.

SEWEWEEKS POORT 2325m

Picture
Hy maak my voete soos diƩ van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes.
Sewe Weeks Poort is die hoogste bergpiek bo seespieël in die Wes-Kaap. Hierdie reuse berg in die Swartberg reeks is geleë buite Ladies Smith en 'n groot uitdaging om te klim. Die eerste keer het ons op aanbeveling van 'n boer van die omgewing, aan die noorde kant van die berg probeer klim. Daar is geen paadjie of aanduidings na die kruin van die berg toe nie. Weens beserings en verkeerde rigting aanwysings moes ons halfpad omdraai en kon nie die kruin bereik nie.

Die tweede keer het ons op aanbeveling van kenners vanaf die Suide kant van die berg probeer om die kruin te bereik. Een van ons klim maats het egter nie sy weg oopgesien om teen kranse uit te klim nie en het begin ly aan hoogte vrees. Hy het ook van ons weg gedwaal en homself in 'n kloof anderkant ons bevind. Ons het in die berg oornag en moes aan die onderpunt van die kruin omdraai omrede ons afgedwaalde klim maat sonder water gelaat was. Bo in die berg is daar 'n grot met helder drinkbare fontein water in en het ons vir hom daarvan geneem. Groot was die teleurstelling toe ons moes omdraai.

In die derde poging het ons weereens die suide kant aangedurf, maar halfpad teen die berg op het dit begin reën en het die klim net te gevaarlik geword en moes ons weereens omdraai. Die vierde keer was ons egter suksesvol. Ons het die kruin vanaf die noorde kant bereik. Vanaf die kruin is die uitsig oor die klein karoo, aan die een kant,  en die Outeniekwa aan die anderkant onbelemmerd. Wat 'n panoramiese gesig was dit nie met die wolke onder ons voete.

Ons het 'n kragtige tyd van intersessie vanaf daardie hoogste piek gehad en kon die hele Wes-Kaap dek. Daar het ons ook sjofar geblaas, altaar gebou en met olie gesalf terwyl ons 'n Bybel daar onder die altaar gelaat het. Dit was 'n moordende dag en die terug wees by die motors 'n groot seën. Die lekkerste van sulke berg klimmery is altyd wanneer jy onder terug in die motor is en weet al die pyn en seer is agter die rug.
 

BOTLIERSKOP MOSSELBAAI

Picture
Waar twee van julle saamstem oor enige saak
Botlierskop is geleë buite Mosselbaai aan Klein Brakrivier kant. Dit is binne 'n wild reservat en kan vanaf die N2 gesien word. Ek het altyd geweet daardie kop wat so vanaf die vêrte gesien kan word, hou verband met 'n sataniese vesting in ons midde. Op 'n dag moes ek iemand daar besoek en met die ry na die reservaat, sien ek vir die eerste keer die rots wat soos 'n mense kop lyk. Dit oorheers die hele omgewing en staan daar as 'n standbeeld deur die natuur self gebeitel.

Ons het by die eienaar toestemming gekry om die kop uit te klim en ontdek toe daar 'n Khoi rotstekening. Hierdie was dus 'n sataniese altaar wat deur die jare onheil uitgesaai het. Hierdie altaar het dan ook gekoppel met al die ander hoë altare, Gate ways soos Sleeping Beauty en die rotskuns op Mosselbaai punt. Op Mosselbaai by die punt is daar 'n oorhang rots genoem Bats Cave maar ook 'n bekende Khoi vesting. Daar is wel nie rotstekeninge nie, maar aan die bo kant van die grot is die rots formasie die vorm van 'n mense kop - 'n Gate way.

 

Picture
Hierdie natuurlike rotskuns lyk so werklik, so asof dit deur 'n reuse hand uitgebeitel is. Hierdie is 'n bekende baken en kan vanaf die N2 duidelik gesien word. Ons het hierdie kop uitgeklim en reg op die kruin die kop met olie in die Naam van Jesus Christus gesalf en daardie demoniese stem stil gemaak. Daar het ons die Sjofar geblaas teen al die vreemde profetiese woorde wat deur vorige Shamans oor die gebied geuiter was en ook 'n Bybel reg in die senter van die kop geplant. Sedertdien is die Woord van God aan die spreek oor die omgewing en verwag ons 'n groot siele oes vanuit Klein Brak en omgewing. Die antieke Khoi prinse het nie meer 'n houvas op Botlierskop en die omgewing nie en moet armoede waarin baie plaaslike inwoners geknel word, die omgewing verlaat.

 

Picture
Die antieke Khoi Shamans wat die rotstekening gedoen het, was in 'n beswyming wanneer hulle demoniese visioene gesien en dan geteken het. Hul neuse het tydens 'n trance dans begin bloei en was dit daardie bloed gemeng met oker en kruie waarmee die tekeninge gedoen was. Wanneer die Shaman se geestes kragte begin taan het, het hulle na hierdie altare teruggekeer en krag uit hierdie tekeninge getrek. om voort te gaan met hulle waarsê. Hierdie tekening het ons onder die kop van Botlierskop gevind. My Khoi broer wat die intersessie meegemaak het, het dan ook hierdie sonde teen die Here namens sy voorgeslagte bely en kon ons die vloek wat op die grond gekom het, breek. Daardie bloedoffer wat deur onreine neus bloed gemaak was, is nou stil.

 

Picture
Die foto wat ek probeer neem het, was gemik op Mosselbaai in die vêrte en wou ek net die oorhang rots inbring vir 'n beter komposisie. Dit was eers later dat ek op my rekenaar na die vergroting van die foto gekyk het dat ek hierdie demoniese gesigte kon sien. Daar is drie gesigte in hierdie oorhang rots. Die een reg bo, die van 'n bobbejaan, dan 'n skimagtige mense gesig, dan 'n dier met oopgesperde kake aan die onderkant. Geen wonder dat ons so 'n drakoniese atmosfeer oor 'n gedeelte van kleinbrak aangevoel het nie. Ek het die plek later weer besoek net om seker te maak dat ek reg sien, en het dit vir my gelyk soos versteende oer oue gedaantes wat my laat wonder het oor die reuse wat voor die vloed van Noag op aarde geleef het. Ek dink nie dit is hulle nie - net 'n gedagte wat by my opgekom het. Hierdie Gate way is ook stil gemaak deur gebed en die blaas van die Sjofar. Kleinbrak en omgewing behoort aan Jesus en nie aan demoniese altare nie.

 RUITERBERG 1362m

Picture
BYBEL ALTAAR IN RUITERBERG
Ruiterberg is geleë in die Robinson pas op die hoogste punt van die pas - 860 m.b.s - Wanneer jy hierdie punt bereik daal jy af na Oudtshoorn of na Mosselbaai, dit hang net af waarheen jy op pad na is. Hierdie is die hoogste berg kruin in die pas, 1362 m.b.s en dus baie strategies in geestelike oorlogvoering en intersessie. Jy sien hierdie berg van alle kante, waar jy ook al beweeg - van Mosselbaai, Ruiterbos, Friemersheim en Oudtshoorn is hierdie berg sigbaar. Vanaf Oudtshoorn is hierdie berg heeltyd sigbaar en was dit uiters belangrik dat ons hier 'n altaar met 'n Bybel in moes plant. Ons kon nie die kruin bereik nie en het ons vas geklim teen onklimbare kranse, daarom het ons die Bybel ongeveer 200m onder die kruin in die berg ingeplant - die Bybel het letterlik deel van die berg geword. 'n Dag later het ons heerlike reëns gehad en gebeur hierdie gereeld wanneer ons klaar altaar gebou het. Die Here seën en bevestig telkens deur reën te gee wanneer ons so 'n sending suksesvol afgehandel het.

Ruiterberg kruin is wel van die ooste kant bereikbaar en het ons reeds toestemming van Toerisme om deur hulle grond te beweeg. Die berg het skynbaar 'n belangrike rol in die Anglo Boere oorlog gespeel en kan jy per perd tot op die kruin ry. Nou onlangs het iemand dit ook gedoen. Die kruin van die berg is 'n ideale uitkyk pos en kan verspieders die vyand al van ver af sien aankom. Ons gaan eersdaags die kruin bestyg en daar 'n altaar vir Jesus Christus bou net 'n Bybel in. Die engele sal daar waghou en ons in kennis stel indien daar gevaar vir die Eden Munisipale Distrik aan die kom is. As intersessors is dit mos ons plig om as wagters op die mure te waak oor ons dorpe en stede en speel Ruiterberg 'n belangrike rol in hierdie oorlog.


Aan die voet van hierdie berg het ons ook 'n broer pastoor en sy gemeente wat as Gate Keepers hierdie poort vir Jesus in besit geneem het. Daar het na ons altaar bou 'n intersessie beweging aan die beweeg geraak en is daar selfs op Friemersheim al vier groepe wat bid en aan 'n 24/7 aksie bou.

UHURU PIEK KILIMANJARO TANZANIA 5895m

Picture
 

JURIE SE BERG 1080m  ATTAKWAS BERGE

Picture
PROKLEMASIE VAN GOD SE WOORD OOR DIE ATTAKWAS BERGE
Jurie se Berg is deel van die Attakwas berge in die Robinson pas van die Outeniekwa Bergreeks en omgewing van Ruiterbos. Ons het die kruin deur digte mis bereik en daar 'n Bybel geplant en altaar gebou. Hierdie woorde van God, geskryf op papier wat 'n produk van hout is, spreek die Woord van God vanaf hierdie berg kruine. Die Woord van God kan nooit leeg terugkeer nie en moet vrugdra daar waar dit heen gestuur word. Soos die altaar klippe van ouds wat as getuie vir en teen die volk gespreek het, is hierdie woorde in die bladsye van die Bybels ook getuienis van God se geregtigheid. Vanaf hierdie bergkruine het ons geestelike oorlog gedoen teen die baie valse en olkultiese altare wat die antieke Khoi Shamans d.m.v. hul rotstekenning gedoen het. Ons het in die Naam van Jesus hierdie altare in die gees afgebreek en hul stem in die geestes wêreld stilgemaak. Hierdie demoniese altare sal nooit weer okultiese kragte in ons berge loslaat en skade doen nie. Op die foto staan ek en my klim maats met die nuwe Bybel wat ons daar onder die altaar klippe geplaas het.