Versoening en Restourasie

                               DIE HEILIGE VERBONDE VAN GOD 
                           DIE KLIPPE ROEP  DIT UIT!

ABRAHAM:
In Genesis 12 roep God Abraham op om sy familie en sy vader se huis te verlaat, na ’n land wat Hy hom sal aanwys. Die belofte hieraan aan gekoppel is dat God vir Abraham ’n groot nasie sal maak – Hy sal seën die wat hom seën en vervloek die wat hom vervloek en strek die belofte vêrder en sal alle nasies in hom geseën wees. Toe Abraham in gehoorsaamheid wegtrek, word die belofte uitgebrei en beloof God in Sigem om die land Kanaän waarheen hy getrek het, aan sy nageslag te gee.(vers 7) Hierdie was ’n verbond wat God met Abraham gesluit het en berus op die keuse wat God gemaak het deur Abraham vir hierdie doel uit te kies. Al aandeel wat Abraham hierin gehad het, was om in gehoorsaamheid te doen wat God van hom gevra het.  Hy het homself nier uitverkies hiervoor nie, maar God het. Hierdie keuse was 'n soewereine besluit van die Skepper van die Heelal en nie Abraham s'n nie! Abraham het hierdie verbond verseël deur altare te bou daar waar God met hom gespreek het.

SIGEM, BET-EL EN HEBRON
Die eerste verbond altaar wat hy gebou het, was by Sigem en spreek hierdie klippe van God se belofte dat Hy die land Kanaän aan Abraham se nageslag sal gee. Hy vertrek daarvandaan na Bet-el waar hy ’n tweede altaar oprig en die Naam van die HERE aanroep. As gevolg van ’n droogte vertrek hy Egipte toe en na ’n onderonsie oor water vertrek hy terug na die land Kanaän en doen weer by Bet-el aan, waar hy die Naam van die HERE aanroep. Terwyl Abraham in die land Kanaän rondtrek, verskyn die HERE weer aan hom en bevestig telkens die belofte dat die land Kanaän aan hom en sy nageslag sal behoort. Daarop bou Abraham ‘n derde altaar vir die HERE by Hebron. By Hebron het God aan Abraham ’n erfgenaam belowe,’n erfgenaam wat uit sy eie lendene voort sal kom. Abraham wou sekerheid hê hieroor en bevestig God die verbond met offers wat Abraham moes bring. ’n Rokende fakkel wat deur die offers gegaan het, was die teken dat God hierdie offers aanvaar het. (Gen. 15) Na hierdie offer spesifiseer God aan Abraham die grootte van die beloofde land – van die rivier van Egipte tot die groot rivier, die Eufraat rivier.

TEKEN VAN VERBOND
Gen. 17 bevestig God hierdie verbond met Abraham deur die bevel dat hy en sy nageslag ’n fisiese bewys hiervan aan hulle liggaam moet aanbring deur die besnydenis van die voorhuid van alle mans. Hierdie teken moes hulle herinner aan God se belofte dat Hy vir hulle ’n God sal wees en aan hulle die beloofde land Kanaän as erfenis sal gee. God verseker Abraham dat die belofte deur sy seun Isak sal plaas vind.

 BERG MORIA - JERUSALEM
Na die geboorte van Isak beveel God dat Abraham hierdie seun van die belofte aan Hom moet offer. Hulle vertrek na die berg Moria waar Abraham die vierde altaar bou en vir Isak daarop vasmaak as offer vir die HERE. Toe hy die mes neem om sy enigste seun, die seun van die belofte, te slag, roep God uit die hemel en stop hom. Digby was daar ’n ram wie se horings in takke verstrik geraak het. Abraham neem die ram en word hy die plaasvervanger in die plek van Isak. Abraham noem die altaar op die bergtop van Moria: “Die HERE sal voorsien.” “Op die berg van die HERE sal dit voorsien word.” (Gen. 22) Hierdie is ook die plek waar die Al Aksa tempel van die Moslems tans staan. Omdat hy aan die stem van die HERE gehoorsaam was, was dit hier waar die HERE aan hom gesê het alle nasies sal in sy nageslag geseën word.


HEBRON
By Sara se afsterwe koop Abraham die grot van Magpéla van Efron die Hetiet en word die eerste stukkie grond in Kanaän wettiglik Abraham en sy nageslag s’n. So word die grot en die stuk grond deur die seuns van Het aan hom oorgedra, die eiendom van sy nageslag. Na sy dood word hierdie ook die rusplek van Abraham.

 ISAK
Isak het twee seuns by sy vrou Rebekka gehad, 'n tweeling Jakob en Essau. Isak, die seun van die belofte, se eersgeborene Essau, moes die draer van die belofte wees, maar het so min daarin belanggestel dat hy se eersgeboorte reg aan sy broer Jakob verruil het vir 'n pot rooi lensie sop. So word Jakob dat die draer van die belofte - die belofte van 'n groot nasie en dat alle nasies in sy nageslag geseën sal wees. Isak vertrek na Berséba waar die HERE aan hom verskyn. Hier bevestig God die belofte van Abraham aan hom en rig Isak ’n altaar daar op en roep die Naam van die HERE aan. Die Naam waarmee die HERE Hom aan Isak bekendgestel het, was: “Die God van Abraham, jou vader.” (Gen. 26:24)

JAKOB
Na die dood van Isak vertrek Jakob na sy oom Laban om vir hom ’n vrou te kry. Oppad kom hy by ’n plek waar hy oornag. Hy droom daardie nag van engele wat teen ’n leer na die hemel opklim. Die HERE het aan die bo punt van die leer gestaan en die verbond wat Hy met Abraham gesluit het aan Jakob bevestig. Sy nageslag sal wees soos die stof van die aarde en die land waarop hy gelê en slaap het, sal van die weste, ooste, suide en noorde aan hom en sy nageslag behoort. In sy nageslag sal al die nasies van die aarde geseën wees. Die volgende oggend neem hy die steen waarop hy sy hoof neergelê het, gooi olie daarop uit en rig dit as gedenksteen op. Daardie steen getuig van God se belofte aan Abraham, wat deur Isak bevestig was en nou verder getuienis deur Jakob ontvang het. Hy noem die plek Bet-el omdat hy dit gesien het as die huis van God. Dit was hier waar hy van sy kant af ’n verbond met God gesluit het. Indien die HERE hom sou bewaar en hy veilig in sy land kom, sal die HERE sy God wees, was die belofte. Nadat God Jakob se naam na Israel verander het, keer hy behoue terug na Sigem en nadat hy ’n stuk grond daar gekoop het, rig hy ’n altaar op en verklaar die klippe: “Die God van Israel is God.” Sigem met sy altaar behoort dus wettiglik aan Israel en sy nageslag, omdat Jakob dit gekoop het.

Jakob keer op die HERE se opdrag terug na Bet-el, die plek waar Hy Homself aan Jakob openbaar het en bou daar ’n altaar vir die God wat aan hom verskyn het. Hy noem die plek El Bet-el. God bevestig weer die belofte van Abraham aan hom en gee hom die opdrag om vrugbaar te wees en grootliks te vermeerder.

DIE HEILIGE VERBOND
In Eksodus by die berg Horeb het God aan Moses Sy Heilige Verbond gegee. Die tien gebooie het God self met Sy eie vinger op klip tafels geskryf. Dit is hierdie verbond waaragter Satan is om dit te onheilig. Die Anti-Chris van Openbaring gaan ook poog om hierdie verbond wat God met die mense het, te vernietig. (Dan. 11:28) Dit is hierdie standaard waarteen die wêreld gees weerstand bied. Hy weet dat indien mense hieraan gehoorsaam is, hulle ’n seën vir God en mense sal wees. Hierdie verbond neem jou ook in ’n lewe van heiligheid in waarsonder niemand die HERE sal sien nie. Hierdie verbond wat op twee kliptafels geskrywe staan, is in die verbondsark van God en is op ’n plek in bewaring waarvan net God weet. Daardie kliptafels spreek tot vandag toe. God het dit vêrder vasgemaak deur dit op die tafels van ons harte te skryf. Dit is ons gewete wat hiervan getuig.

 GOLGOTA SE KLIP
In Jerusalem is daar 'n plek waar ons Verlosser Sy lewe vir die sondes van die wêreld neergelê het - 'n plek genoem Golgota, Plek van die Skedel, 'n plek waar Hy 'n dure prys vir mense betaal het. Naby die Plek van die Skedel is daar 'n tuingraf waarin Hy neergelê was, 'n leë graf wat getuig dat Jesus opgestaan het uit die dood. Hierdie uitgeholde graf in die rots van die tuin, se klippe getuig daarvan. Dit was hier waar God met ons 'n verbond gesluit het, 'n verbond wat sê ons moet glo. Die steen wat in die opening van Jesus se graf was, getuig ook. Hy getuig dat die graf leeg is – Hy het opgestaan en leef vir ewig. Wanneer jy in Jerusalem se strate stap, voel jy hierdie getuienis. Dit is 'n getuienis wat uitgaan vanaf hierdie plek Golgota, uitgaan vanuit die leë graf in die tuin, want dit is die kosbare bloed van Jesus wat die grond van daardie plek deurdrenk het, wat jy nog steeds daar aanvoel.

 DIE GETUIENISSE
Die vier altare wat Abraham opgerig het, word na verwys as die  ruggraat van Israel. Dit is hierdie altare wat getuig van God se ewige verbonde met Sy uitverkore nasie en sal hierdie klippe bly getuig dat God regverdig en getrou is. Sedert 1948 is die Jode besig om in groot getalle terug te keer na hul beloofde land en het daar in die afgelope sestig jaar ’n wonderwerk plaas gevind. Die woestyn is besig om te blom. Die Israeli’s het daardie land met bome, struike en landerye beplant en wat eens woestyn was, is nou voedsel produserende eenhede.

 Die sataniese aanslag teen Israel is nie teen die Jode nie, maar teen die God van Israel. Indien Satan hierdie volk kan uitwis, kan hy daarna verklaar dat God nie betroubaar is nie, want Hy het nie Sy Woord aan Abraham, Isak en Jakob gehou nie. Die finale slag gaan hier plaas vind wanneer God die nasies van die wêreld hierheen gaan lok om met hulle rebellie af te reken. Die slag van Armageddon is op hande. Die HERE het gesê Hy sal vervloek die wat Abraham se nageslag vervloek en gaan die slagting onder die nasie van die aarde groot wees. Maar Hy het ook gesê Hy gaan seën die wat Abraham seën en hiervan wil ek deel wees.

 JESUS CHRISTUS
Daar kom ’n tyd dat Jesus die nasies van die aarde gaan versamel en wanneer hulle voor hom verskyn, Hy hulle gaan opdeel in skaap en bok nasies. Vir die skaap nasies aan Sy regterhand sal Hy sê:

“Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af. Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom. Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee? En wanneer het ons U ‘n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee? En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom? En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sovêr julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.” (Mat 25:34-40)

 Vir die bok nasies aan Sy linkerkant sal Hy sê: “Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele. Want Ek het honger gehad, en julle het My nie te ete gegee nie; Ek het dors gehad, en julle het My nie te drinke gegee nie. Ek was ‘n vreemdeling, en julle het vir My nie herberg gegee nie; naak, en julle het My nie geklee nie; siek en in die gevangenis, en julle het My nie besoek nie. Dan sal hulle Hom ook antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien of dors of ‘n vreemdeling of naak of siek of in die gevangenis, en U nie gedien nie? Dan sal Hy hulle antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sovêr julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie. En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.” (Mat 25:41-46)

 Hierdie broeders waarvan Jesus praat, is Sy Joodse broeders – Sy vleeslike nageslag, die nageslag van Abraham, Isak en Jakob. Hierdie is ’n ernstige saak. Jy gaan geoordeel word hoe jy Israel in hul tye van benoudhede bygestaan het of nie. Ek wil deel van die skaap nasies wees. Ek wil deel van Abraham se seëninge wees, ek wil nie onder die vloek wees nie! Deur ’n seën te wees beteken dat ek seëninge na my volk toe bring. Deur saam met Israel in hulle uur van beproewing te staan, bring ek my nasie onder God se beskerming in en hoe meer mense hieraan deelneem, hoe groter sal die seëning oor die nasie wees. Ons kan hierdeur ons hele nasie in die skaapkraal inbring! Dit is ons enigste hoop en die enigste hoop vir ons kontinent.

 GEBEDS INTERSESSIE VIR ISRAEL
Daar is net een praktiese geestelike manier waarop ons ’n seën vir Israel kan wees en sodoende deel kan hê aan die seëninge. Ons moet saam met hulle in gebed God dag en nag aan die verbonde herinner. “o Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. o Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes—moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde!” (Jes. 62:6-7)

 Die altare spreek en ons moet ons getuienisse saam met die klippe sit, totdat God kan hoor en Israel bevry van Sy vyande. Daar is baie ortodokse Jode wat hierdie beloftes glo en God daagliks daaraan herinner. Ons moet ons geloof saam met hulle sit. “The voice of thy watchmen! they lift up the voice, together do they sing; for they shall see eye to eye, when Jehovah returneth to Zion.” (Isa 52:8) Ons kan die wederkoms van Jesus verhaas deur so in te treë. Sê Petrus dit nie ook nie? “...julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt.” (2Pet 3:12)

 “Dan sal daar verlossers die berg Sion opgaan om die gebergte van Esau te oordeel, en die koninkryk sal aan die HERE toebehoort.” (Obadja 1:21) Ons kan deel van hierdie verlossers wees wat God se oordeel op die nageslag van Esau bring. Dit is hulle, die Palestyne, wat die verbond altare, die ruggraat van Israel beset, en die belofte van ’n beloofde land vir hulle self opeis. Sê Jesaja nie so oor God se oordele nie? “Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van ldie wêreld geregtigheid. Word aan die goddelose genade bewys, dan leer hy geen geregtigheid nie; wat onreg is, doen hy in ‘n land van reg, en hy sien die hoogheid van die HERE nie.” (Jes. 26:9-10)

God het intersessors nodig om Sy oordeel op hierdie Arabiese volkere te bring. Die Moslems bid daagliks in hul duisend talle op berg Sion en eis die beloofde land van Abraham, Isak en Jakob vir hul self op. Geen wonder dat hulle die steun van die ganse vrye wêreld het nie. Ons wat deur inenting deel geword het van die olyfboom en deelgenote van die beloftes, het voor die HERE ’n verantwoordelikheid teenoor Israel. Hulle is deur hulle ongeloof verblind en is dit ons wat sien, wat vir hulle die lig op die pad moet wees. Ons wat in die volheid deel, moet hulle wat net ’n gedeelte sien, ondersteun totdat hulle in die volheid van die evangelie inkom. Sonder hulle sal ons ook nie volmaak kan wees nie, want redding is vanuit die Jode. Die Christen geloof is ’n Joodse geloof en het vanuit hulle na ons gekom – ons is dus baie aan hulle verskuldig. Die eerste Joodse sendelinge, die apostels, het almal met hul lewens geboet om aan ons die evangelie te bring, ons kan nou iets begin teruggee. Al wat die HERE ons vra is staan saam met hulle in hierdie moeilike tye – staan saam op die beloftes totdat Israel ’n lof in die middel van die aarde sal wees.

 Ons moet gaan, ons moet op die berg Sion God aan Sy beloftes gaan herinner. Kom jy saam?

Kontak my by tel. 044 692 0547 begin_of_the_skype_highlighting              044 692 0547      end_of_the_skype_highlighting / 084 707 2507 begin_of_the_skype_highlighting              084 707 2507      end_of_the_skype_highlighting. e-pos:
[email protected]

Bou stene van die ou stadsmuur

En Hy antwoord en sê vir hulle: Ek sê vir julle, as hulle swyg, sal die klippe uitroep.

(Luk 19:40
)


 Jode bid by die klaagmuur

o Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. o Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes—moenie rus nie

(Isa 62:6)


Die nasies vetrap Jerusalem

 en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is.
Luk. 21:24


Die ou stadsmuur in die aand

en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde!

(Isa 62:7)


 


Read in English