Versoening en Restourasie
 
Afrikaners beleef sedert 1994 ernstige trauma. Sedert die oorname van ons land deur die ANC het ons die politieke mag basis, wat ons sekuriteit vir soveel jare was, verloor. In plek daarvan het vrees en onsekerheid gekom en honderde duisende het die land verlaat. Soos die tyd aangestap het vrees en onsekerheid plek gemaak vir haat en woede oor die onbeholpenheid van ons huidige regeerders. Korrupsie in regerings geledere, grootskaalse diefstal van belasting geld deur amptenare, kommunistiese infiltrasie van die regering en die ineenstorting van infrastruktuur, misdaad en plaasmoorde het die Afrikaner tereg laat uitsprake maak wat getuig van afsku en minagting vir ons Regeerders. Jy hoef net die kommentare in die Afrikaanse dagblaaie te lees om te sien hoe erg hierdie houding jeens die regering is – maar is dit reg?

Die Afrikaner beskou homself as Christen en roem daarop dat hy die enigste ware God, Vader, Seun en Heilige Gees aanbid, wat beteken dat ons die gesag van die Bybel as die geopenbaarde wil van God vir ons as volk aanvaar. Is dit so? Ja, ek glo dat die meerderheid van ons ernstig is om God se wil te soek en te doen. Daar is wel verskillende denkrigtings en dogmatiese oortuigings onder ons, maar ongeag wie reg of minder reg is, is dit my oortuiging dat die meeste van ons opreg in ons soeke en oortuigings is. Maar wat sê die Bybel, God se Woord, hoe ons as ’n volk teenoor die regering en ons regeerders moet optree?

Rom 13 is baie duidelik hieroor. “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel, sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang.

Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte. Maar wil jy die mag nie vrees nie, doen wat goed is, en jy sal lof van hom ontvang; want hy is ‘n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ‘n dienaar van God, ‘n wreker om die een wat kwaad doen, te straf. Daarom is dit noodsaaklik om jou te onderwerp, nie alleen ter wille van die straf nie, maar ter wille van die gewete.” (Rom 13:1-5)

Hierdie is onweerspreeklik God se wil vir ons as Afrikaners – ons kan nie daaroor verskil nie, wat ook al jou dogma is, jy moet erken hierdie is God se wil en moet ons gesindheid in lyn hiermee kom. Vir ’n Afrikaner is hierdie nie maklik nie en sal hy ’n paar dode moet sterf om hierby uit te kom. Jy sien, ons het die regering wat ons het verdien! Die magsmisbruik, onderdrukking, arrogansie en goddeloosheid wat ons die afgelope 350 jaar gesaai het, het ons ingehaal – ons is die afgelope 16 jaar aan die ontvangkant en lyk die toekoms vir ons nie baie goed nie. Dreigende onteiening van plase en die oorname van banke en myne deur die regering wat daar in die parlementêre wandelgange te hoor is, hou vir ons niks goeds in nie.

WAT STAAN ONS TE DOEN?
• Ons moet uitvind wat God se wil is en dit begin doen en hier het 2 Kronieke 7:14 ’n duidelike antwoord: “...en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.” Dit beteken ons as Afrikaners moet ten eerste ons vyandigheid teenoor die regering laat staan.


• Ons moet aanvaar dat Suid-Afrika nie langer eksklusief die wit man se land is nie, maar dat Suid-Afrika aan al die verskillende etniese groepe behoort. Dit is ’n feit en moet ons ophou om dit te ontken. Ons moet erken dat die meerderheid mense in Suid-Afrika die ANC gekies het om die land te regeer en ons daarby berus.

• Maak vrede en vind vrede binne jouself vir die huidige situasie. Hoe erg hierdie situasie ook al is, jy sal moet berusting en vrede vind in die feit dat die huidige regering deur die Here oor ons aangestel is.

• Die opstand wat jy teenoor hulle in jou harte dra, maak dat jy onder God se oordeel kom. “...en die wat daar is, is deur God ingestel, sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang.” (Rom. 13:2) Is dit nie dalk die rede vir sommige van die plaasmoorde nie?

• Jy hoef nie met die regering saam te stem nie, maar moet hulle erken as dienaars van God en dus deur Hom aangestel is. Hy sal op Sy tyd met al hulle bedrog, diefstal en korrupsie deel. Dit is God se werk, nie joue nie.

 
• Hou op om hulle te vervloek en slegte dinge oor hulle te sê. Hierdie mense hoor en lees wat ons oor hulle sê en raak net meer vyandig teenoor ons – ons kwetsende woorde maak hulle seer en skep wraak in hulle harte wat een of ander tyd tot uitbarsting kan kom. Praat van God se wil, hoor hierdie een: “Herinner hulle daaraan om onderdanig te wees aan owerhede en magte, om gehoorsaam te wees, bereid tot elke goeie werk; om niemand te belaster nie, nie strydlustig te wees nie, vriendelik te wees en aan alle mense alle sagmoedigheid te bewys.” (Tit 3:1-2 ) God se wil is nie vir papbroeke nie.


• Bid vir die regering en moet hulle nie vervloek nie – jou vervloeking maak dat die duiwel homself die reg toeëien om ons regeerders verder te verswak en allerhande verkeerde dinge in hul ore te fluister. Vir drie jaar het die Heilige Gees vir die kinders van die Here in Zimbabwe gesê om vir hulle regering te begin te bid. Hulle het dit nie gedoen nie en het die duiwel deur monde van sangomas en war veterans in Mugabe se ore begin te fluister. Die toestand in Zimbabwe kan toegeskryf word aan die biddeloosheid van hulle wat daarop aanspraak gemaak het dat hulle die ware evangelie het. “In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid. Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser,” (1Tim 2:1-3)I Gebed beskerm ons manne en vroue in regering posisies.

• Erken en aanvaar President Jacob Zuma as die President van Suid-Afrika en betoon eerbied aan hom. Moenie na sy lewe kyk nie, kyk na die gesag posisie waarin God hom aangestel het. Bid dat sy ore toe sal wees vir die stem van die bose en sy hart oop vir die Heilige Gees. “Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.” (Spreuke 21:1)

•  Ondersoek jou hart en deel met alle vorme van rassisme. Hier het jy die genade van die Here nodig, want om jouself as beter as ander te beskou, is so deel van die Afrikaner kultuur – dit het deel van ons DNA geword en is dit net die Heilige Gees wat jou daarvan kan verlos. Die militante en radikale element onder swart mense is in die minderheid. As Afrikaner het ons saam met hulle grootgeword en sal jy met my saamstem dat die meerderheid van hulle goedhartige mense is. Dit is ook nie net wit mense wat in misdaad die slagoffer is nie, swart mense ly geweldig onder misdaad in die townships en plakkerskampe. Dit is daar waar jy kinders van die Here op hul knieë sal vind, besig om te bid vir beskerming en oorlewing.

• Kyk terug oor ons geskiedenis heen en jy sal vind dat ons as wit mense ’n groot en belangrike deel was van die opbou van hierdie land, maar wees eerlik genoeg om te sien dat ons dit nie sonder swart en bruin hulp kon gedoen het nie. Miskien as ons almal eerlik genoeg kan raak, sal die vennootskap wat altyd daar was, nou sinvol verder gevoer kan word. Elkeen van ons, swart, bruin of wit, het gawes van God ontvang en wanneer ons hierdie Goddelike gawes aanwend om mekaar te dien, sal Suid-Afrika die model land wees waarmee die Here self met trots kan spog. Mag Hy ons geestelike oë open sodat ons kan verootmoedig voor Hom en Hy ons land kan genees.


 
Uhuru: Met die verslegtende politieke situasie in Suid-Afrika gaan daar baie stemme op wat sê: “Oom Siener het dit voorspel, Oom Siener het gesê dit gaan gebeur en vele meer.” So is een van sy gesigte wat hy gesien het, weer vandag die onderwerp van vurige bespreking. Manne en vroue maak hulle gereed vir die bloedbad wat deur hom voorspel was – dit is nou die “Nag van die lang messe.” Daar word gepraat en verwag dat hierdie slagting gaan begin by die afsterwe van oud President Nelson Mandela en gaar hulle voedsel op, kry die skietgoed reg  en wag in vrees dat hierdie profesie in vervulling moet gaan. Was Oom Siener ’n profeet deur God gestuur of was hy slegs ’n misleide godsdienstige man wat as vurige patriot dinge in die Bybel gesien het wat God nie vir hom gewys het nie? Ek het hierna gaan kyk en tot ’n gevolgtrekking gekom dat daar ’n dwaalspoor in die lewe van hierdie man was. 

Met die helm gebore?: “Siener was nog maar ’n kleuter toe sy ma begin agterkom hy sien dinge wat vir haar en andere verborge was, aangesien hy te jonk was om te begryp wat aangegaan het of wat besig was om met hom te gebeur.” (Boodskapper van God bl. 20) Hierdie noem mense: “met die helm gebore” wat beteken dat iemand die vermoëns besit om in die toekoms in te sien. Hierdie is ’n sataniese binding van ’n waarsêende gees wat in die bloedlyn van so iemand se familie opereer.- “a familiar spirit.” ’n familie gees. Daar is ’n opening tussen hierdie persoon se gees en siel wat beteken dat iewers in die voorgeslagte van so ’n persoon daar met die okkulte gelol was. Astrale projeksies open sulke “gate ways” en stel die persoon in staat om in die toekoms te sien. Dit is egter ’n leuen aangesien die toekoms in God se hande is en nie in die hande van die bose nie. Die bose geeste weet nie wat in die toekoms gaan gebeur nie, daarom plaas hulle d.m.v. drome, visioene en profesieë deur waarsêers ’n projeksie by die soekende en wanneer die hulle projeksie glo, gebruik hulle daardie geloof om hulle leuens waar te maak. 

Gees agter die Waarheid: Siener se gawe het hy reeds van kindsbeen af en nêrens lees ek in enige boek oor hom, dat hy enigsins vervul was deur die Heilige Gees of dat hy deur die Heilige Gees geprofeteer het nie. Die Bybelse getuienis van die vervulling van en die ontvang van die gawes van die Heilige Gees vind ons in die boek van Handelinge en is iets waarin alle wedergebore kinders van die Here moet leef. Siener was van kleins af lief vir die lees van die Bybel maar kan dit nie as maatstaf gebruik word om geloofwaardigheid aan sy gesigte te gee nie. Daar is baie valse geloofsgroepe wat ook net die Bybel lees en hulle oortuigings grond op die geskrewe woord. Die waarheid wat mense voorhou is nie noodwendig God se waarheid nie. Jy moet die gees agter daardie waarheid onderskei. Satan het self in die woestyn Jesus probeer mislei met die aanhaal van Bybelse waarhede, maar agter daardie waarheid het sy leuen tong gesit. “Die getuienis van Jesus is die gees van die profesie.” (Open. 19:10b) m.a.w. die gees waarin geprofeteer word moet van Jesus getuig en dit vind ek nie in die gesigte en voorspellings van Siener van Rensburg nie. Wat ek wel daar vind is  verdoemende gesigte met geen genade in nie. Hy sien ’n bloedblad of iemand sterf, maar geen hoop op uitkoms nie – geen getuienis van Jesus se deernis en medelye vir mense nie. Inteendeel die vrugte wat sy volgelinge dra getuig geensins van die lewe en karakter van Jesus Christus nie. Hulle vrug getuig van rassehaat en selfs haat teenoor mede-Afrikaners wat nie met hul sienswyse saamstem nie. Sê Jesus dan nie ons moet ons vyande liefhê nie?

Dit is vir my duidelik dat Siener se gawe nie van God gekom het nie, dalk het hy wel so hier en daar reg gehoor maar was sy gesigte vermeng met spiritistiese invloede en sê ek dit op grond van sy geestes ervaringe tydens die sien van gesigte en die wyse waarop hy as profeet gebore is. In hierdie skrywe  haal ek aan uit die boek: “Siener van Rensburg boodskapper van God” geskryf deur Adriaan Snyman. (Adriaan Snyman is die man wat vir Siener weer uit die dood laat herleef het, ’n tipe voorvader gees wat vandag met sy volgelinge deur hierdie gesigte en visioene praat.

 Drukking op brein: “Ek kry ’n soort drukking in my agterkop en my verstand begin draai totdat ek so duiselig raak dat ek nie meer regop kan staan nie. Dan gaan lê ek met my hande onder my kop en ek maak my oë toe. En al is my oë toe, sien ek ’n wasigheid verbytrek. Maar die drukking bly in my kop. Daardie waas word dikker, dit maal en kolk soos wolke wat saampak en uit hierdie maling uit begin vir my so duidelik lyk asof ek self daar teenwoordig is. Later wanneer die drukking en duiseligheid begin wyk, vervaag die vision ook” ( bl. 26)  Hierdie is duidelik ’n spiritistiese ervaring en getuig mense wat al ’n séance bygewoon het ook van drukking in die brein en die mistige wasigheid, voordat hulle geestelike insigte kry.

 Oud staats President Paul Kruger het ook die gawe besit en kon tydens jagtogte wild sien voor ander dit kon sien. Hy het egter met God daaroor geworstel en gevra dat hierdie van hom weggeneem moet word en het dit ook gebeur. Ek glo dat Paul Kruger in ’n verhouding met Jesus Christus geleef en besef het hierdie sogenaamde gawe van heldersiendheid was nie uit Hom nie. Ek vind dit interessant dat daar verskeie presidente en staatsmanne by Siener besoek afgelê het, maar Paul Kruger se naam verskyn nie onder hulle nie. Sou Oom Paul dalk ’n probleem gehad het met die Siener se gawe? Dit lyk so en kan ek dit verstaan, want dit is die binding waarvan die Here hom vrygemaak het. Die gawe van heldersiendheid was nie iets vreemds onder die boere Afrikaners nie en het hulle dit “met die helm gebore” genoem en kry jy dit nog onder ons mense.

 Op Taungs gebore as profeet: “Maar laatnag het hy wakker geskrik met ’n swaar vreemde drukking in sy kop – dit was so erg dat hy half duiselig geraak het. Hy het sy kop in sy hande vasgegryp, sy oë toegemaak en gewonder wat nou gebeur.  Die toneel wat daardie nag voor hom afgespeel het, was so verskriklik dat Nicolaas gedink het hy gaan sy verstand verloor.”  (bl.49) 

 Teen dagbreek het hulle hom onder ’n vaalbos gevind waar hy vreesbevange ingekruip het. Sy hare was deurmekaar, sy gesig vuil en vol stof en trane en sy klere was gehawend en vol grond – rooi behuilde oë en afgekoude en bebloede vingernaels. Dit was die nag waarin hy die verskroeide aarde gesien het van lord Frederick Roberts waarin 26 000 vroue en kinders in konsentrasie kampe gesterwe het en 63 000 huise en plase deur brandstigting vernietig was. Die profeet Nicolaas van Rensburg is daardie nag van 16 Oktober 1899 op die dorpie Taungs as profeet gebore. Hierdie ervaring van hom is totaal onskriftuurlik en is daar geen bewys dat enige profeet in die ou en nuwe testament deur so ’n afgryslike ervaring as profeet geroep was nie. God vul manne met Sy Gees en profeteer hulle onder Sy salwing en is ’n fisiese geveg met die duiwel ondenkbaar. 

 Stryd teen satan: Siener het sy hele lewe lank ’n persoonlike  stryd teen satan gevoer en die bose gees gedurig op sy hake gevoel. (bl.51) Sy fisiese kennismaking met satan was dan ook die nag by Taungs toe hy die marteling en dood van der duisende vroue en kinders gesien het.  Oor presies wat daardie nag gebeur het vertel Siener so: “My kop het deurmekaar begin raak en het skielik besef die satan het my beet. Dit was toe ek onder die vaalbos gaan inkruip het waar Jan van Wyk hulle my die volgende dag gekry het.” Mev. Annie Botha het op 20 Mei 1900 ook die vision van Siener gehad oor die verskroeide aarde deur lord Roberts.  Haar vision het vier ure geduur en was sy daarna ook in ’n ontsettende geestes toestand. (bl.31) Hierdie ervarings dui op ’n sataniese aanval oor wie hy geen oorwinning behaal het nie. Nêrens in die skrif sien ek dat God se profete so deur die duiwel getreiter was nie. Angs aanvalle en depressies was deel van Siener se lewe en het die satan hom getakel met gedagtes van selfmoord. (bl. 51) Hy beskryf die duiwel as ’n ou valetjie en dan weer pikswart. Hy het dae lank met hierdie bose gees geworstel voor die padgegee het. 

 Koos De La Rey: Sy jare lange vriendskap met Gen. Koos De La Rey het daar op Taungs begin en was dit hierdie Generaal wat die ander Boere Generaals oortuig het Siener was ’n profeet deur God gestuur. Dit was Koos De La Rey wat die ander boere generaals oortuig het om Siener te glo en daardeur het die bose dit reggekry om moord en doodslag onder die Afrikaners aan te rig. Dit was hul gesamentlike geloof wat satan gebruik het om te vernietig en so haat in ons harte teenoor die Engelse te plant. Hoe het ons hulle nie oor die jare gehaat nie? Hoe het ons nie die oorlopers “hendsoppers” gehaat nie? Satan het reggekry om deur hierdie moorde ’n vesting van haat in die Afrikaner hart te plant en sien ek hoe dit van geslag tot geslag oorgedra word. 

 1914 Rebellie: Siener van Rensburg was baie prominent in die 1914 Rebellie. Dit was die tyd toe Gen. Jan Smuts die Suid-Afrikaanse troepe opgeroep het om Duitswes binne te val en dit vir Engeland te verower. Generale soos Manie Maritz, Jan Kemp en Koos De La Rey was weer aan die voorpunt en het teen die regering in opstand gekom en die vier kleur gehys. Siener was saam en het hulle met raad bedien. Sy eie predikant van die Hervormde Kerk, waar Siener as ouderling gedien het, het hom op grond van Rom. 13 vermaan om nie by die rebellie betrokke te raak nie. Vele ander predikante het ook op grond van daardie skrif gewaarsku dat so ’n rebellie teen die wil van die Here sou wees. Siener en die Generaals het egter hulle eie siening van die Skrif gehad en die kommando’s gemonster vir hierdie opstand.

 Die ses honderd man wat hulle gevolg het, moes die aftog blaas, maar eers nadat baie boere bloed gevloei het. Die rebellie was duidelik nie deur die Heilige Gees geïnspireer nie en moes hulle in skande en skaamte hulle tyd in die gevangenis deurbring. Siener se gesigte het hierdie boere volk net skade aangedoen en was die destydse regeerders van mening dat die rebellie hoofsaaklik a.g.v. Siener se gesigte was. Hy was die dryfveer agter hierdie opstand en nie die Here nie. 

 Hy het ook die dood van sy eie seun voorspel wat vir my sê dat die Heilige Gees nie hierin teenwoordig was nie. Die Heilige Gees se missie is om Jesus op te hef en nie vir mense te voorspel hoe en wanneer hulle sal sterwe nie – dit is die werk van ’n spiritus, en saai hulle verwoesting wanneer mense hulle voorspellings glo. 

 Nie onder oordeel nie: Die Afrikaner Boerevolk was nie onder God se oordeel nie en indien God wel die sondes van ons voorgeslagte wou besoek, sou Hy eers vir baie jare profete gestuur het om hulle tot verootmoediging en bekering op te roep. Sovêr ek bewus is, was daar nie sulke oproepe nie. Sou daar gewees het, sou God spesifieke sondes uitgelig het en die geskiedenis maak geen melding daarvan nie. Indien ek verkeerd is, help my asb. reg! Dit is my oortuiging dat God niks te make gehad het met die uitmoor van 26 000 vroue en kinders nie. Dit was ’n daad en uitvloeisel van vloeke wat Siener se gesigte op hierdie volk geplaas het, wat hiervoor verantwoordelik was. Tans is Afrikaners weer besig om geloof te gee aan die vloek genoem: “ Uhuru – Nag van die lang messe.”  Afrikaners is weer besig om in die Naam van die HERE daardie vloek lewendig te hou deur hulle oorlog praatjies. Hulle wag met afwagting op die afsterwe van Nelson Mandela sodat hulle kan sê: “Oom Siener het mos gesê!”  Hierdie mense verstaan nie die weë van God nie. In God se oordele is daar altyd groot genade en wag Hy op ons bekering om die oordele af te wend. Sê hy nie in 2 Kron. 7:14: “en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.”

 Twee groot gebeurtenisse: Daar was twee gesigte van hom wat uitstaan tussen al die hordes gesigte wat hy gesien het.. Die eerste was die verskroeide aarde van lord James Robertson wat in verskriklike detail waar geword het.  Die tweede een is die gras wat begin brand rondom die graf, wanneer Nelson Mandela begrawe word. Hieruit ontspring daar ’n oorlog wat weer die Afrikaner boer in beheer gaan plaas van die Boere Republieke. Hierdie gesig word juis vandag tot in die fynste detail ontleed en is daar by ’n deel van die Afrikaner die geloof dat hulle deur ’n rewolusie die mag uit swart beheer gaan neem. Hulle is dus nie bang vir die aanbreek van daardie dag nie, maar sien eerder uit daarna. Die belofte deur wyle oom Siener is dan juis dat hulle die land deur ’n oorlog terug gaan kry. Hierdie valse hoop maak dat hulle vuriglik onder mekaar praat en weereens na Duitsland kyk om hulle militêr hierin by te staan. Het hulle dan vergeet van wat in Duitswes gebeur het. Van die traktate wat oom Siener en sy Generaals destyds met die Duitsers gemaak het, het daar niks van gekom nie. Hierdie mense dink oorlog voer is spelletjies. Hulle moet dalk net weer vir ’n slag goed na Afrika gaan kyk en sien watse verwoesting ’n burgeroorlog in ’n land aanrig. Ek aanvaar nie hierdie voorspellings nie en verwerp dit in Jesus se Naam.

 Verootmoediging: Tans sien ek tekens van God se oordeel oor al die sondes van ons voorgeslagte. Ons, die Afrikaner het die stert geword – ons is nie meer die kop nie en is dit duidelik ’n oordeel van God. Drie duisend drie honderd boere wat op plase sedert 1994 vermoor is, dui verseker op iets wat God vir ons probeer sê. Daarom die oproep deur manne soos Angus Buchan, Bennie Mostert en vele ander geestelike leiers dat ons moet verootmoedig. God se oproep is duidelik ’n teken van Sy genade en sal hier nie ’n bloedblad plaas vind nie. Meer as driehonderd duisend manne op hulle aangesigte voor God tydens ’n Mighty Men saamtrek sal verseker ’n bres wees wat nie deur God geminag sal word nie. Hy wil ons nie vernietig nie, maar gebruik om versoening en seëninge onder die inwoners van die Afrika kontinent los te maak. Ons stryd in Afrika is nie teen vlees en bloed nie, maar teen ’n gees van heksery wat ’n groot deel van die vierhonderd miljoen inwoners van die kontinent in gevangenskap van voorvader gees aanbidding vashou. Ons het nie nog ’n voorvader gees met die naam van Siener van Rensburg of Koos De La Rey nodig om ons te help nie. Ons kan nie op hierdie wyse in hierdie geestelike oorlog betrokke raak nie, maar moet deur die wapens van verootmoediging, bekering en vergifnis die bande van hierdie boosheid oor Afrika breek. 

 Geen Bloedblad: Die voorspelde bloedblad was ook gedurende 1994 verwag en het joernaliste van oor die wêreld heen hierheen gekom om oor al die slagting te berig. Groot was hulle teleurstelling toe daar niks gebeur het nie. Hierdie rustige oorgang was ten danke aan gebed. Duisende mense hier, asook vanuit die buiteland, het vir ons gebid en het God gehoor. Sedert 2001 tot nou toe het daar ongeveer 7000 - 24/7 gebedswake opgestaan. Daar was nog nooit so intens vir hierdie land gebid nie en gaan hier ’n geestelike herlewing uitbreek en nie ’n bloedblad nie. Gedurende die afgelope honderd jaar speek die profete stemme van ’n vuur wat hier aan die suidpunt van Afrika begin brand. Hierdie is nie ’n bloedblad nie, maar ’n Heilige Gees vuur van herlewing wat teen die kus in Afrika op beweeg. Ons leef in die einde van alle tye voor die wegraping van die bruid van Jesus Christus en is daar ’n oes vanuit Afrika wat moet inkom. Hierdie oes sal deur herlewing ingesamel word en indien jy as Afrikaner deel hierin wil hê, dan moet jy ophou om met ’n onreine gees van waarsê saam te werk en die vloeke van Siener van Rensburg aktief teëwerk deur te glo wat God oor hierdie mooi land van ons gespreek het. 

 Die Verbond van Bloedrivier: Die Afrikaner as volk, het sy beslag tydens die slag van Bloedrivier gekry. Die fondasie van hierdie ontstaan was nie die oorwinning oor Dingaan en sy Impi’s nie, dit was nie ’n swart teen wit ding nie, maar die gelofte wat die leierskap daardie dag met God gesluit het. Ons is ’n volk wat met God in ’n verbond staan en is dit die enigste rede waarom ons nog hier is. Ons was egter nog nooit aan hierdie verbond gehoorsaam nie en het vir 354 jaar as heersers in hierdie land mense oorheers en onderdruk. Ons het die inheemse volke gestroop van hul regte en hulle in knegskap gehou tot en met 1994. Die mooi dinge wat deur die bediening van Angus Buchan onder die Afrikaner aan die gebeur is, gaan ons terugbring na die profetiese roeping wat daar op ons en al die ander volke van Suider-Afrika rus. Die Afrikaner het sy ontstaan vanuit die Suid-Afrikaanse bodem gehad wat van hulle ’n egte etniese groep maak – die enigste wit stam in Afrika. Ons het geen ander heenkome nie. Ons voorouers wat vanuit verskeie westerse lande hier aangekom het, het deur ondertrouery vermeng geraak en met ’n goeie kwota Hottentot, swart, Indiese en Chinese-slawe bloed in ons are, is ons vandag ware kinders van Afrika, gebore vanuit Afrika bodem. Met ons administratiewe gawes kan ons met die regte vennootskap, van Afrika ’n spog kontinent maak. Ons het van Suid-Afrika die rykste en voorspoedigste land in Afrika gemaak, maar was dit slegs moontlik deur die swart arbeid tot ons beskikking. Ongelukkig het ons hulle nooit laat deel in ons welvaart nie en betaal ons vandag die dure prys daarvoor. Ek kan my net indink die reuse-sukses wat ons sal behaal met die regte vennootskap tussen ons en die res van al ons etniese groepe. 

 Ons, die Afrikaner moet weer opstaan en saam met die ander etniese groepe verantwoordelikheid vir hierdie land neem. Ons moet ophou om in ontkenning te leef, ons volk sondes eerlik in die oë kyk en voor God verootmoedig en vergifnis kry, dan sal Hy ons weer die geleentheid bied om ons profetiese roeping, die van dienskneg wees, te vervul.  Die wêreld soek na oplossings en is ons op die rand van so ’n getuienis. Ons moet net deel met die skade van die verlede en voor die Here erken dat ons Hom en al die nasies van Suid-Afrika gefaal het met ons slawe mentaliteit. Indien Hy ons vergewe het, sal Hy dit ook so in die harte werk van hulle wat ons tans daaroor haat.

Paulus S Venter

Gebed Koördineerder 

 

 

 

 

 

    PAULUS

    Ek en my vrou Retha is gebed-koödineerders en betrokke in geestelike versoening-aksies tussen volkere. "Gaan dan heen en maak dissipels van alle nasies..." 

    Ons is woonagtig op Mosselbaai aan die Suid Kaap en reik van hier uit onder die naam
    "Mosselbaai Huis van gebed vir die Nasies."





     

    Archives

    November 2010
    February 2009
    January 2009

    RSS Feed