Versoening en Restourasie

 
MOSSELBAAI BEHOORT AAN JESUS!!

Die Uitvoerende Burgemeester van Mosselbaai, Marie Ferreira, saam met die Jordaniër Dr. Bahjat Batharseh tydens 'n "Strike For Jesus" mars deur die state van Mosselbaai


Mosselbaai:  Die Plek van Eerstes, Die Plek Met 'n Oop Hemel, Die Plek Waar God se Stem Gehoor Word!

Hierdie unieke plek met sy besonderse klimaat aan die hange van die Outeniquaberge wat genoem word “Karoo by die see,” is die plek waar “alles” aan die Suidpunt van Afrika begin het. Die eerste bloedvergieting tussen Europeër en die inheemse mense (Bartholomeu Diaz dood ‘n Khoi met pyl en boog na ‘n onderonsie oor water), eerste kommunikasie tussen mense in Suidelike Afrika (‘n brief word in ‘n skoen aan ‘n boom gelaat as waarskuwing vir Da Nova), eerste Christen aanbiddingsplek (kapel gebou deur Da Nova uit dankbaarheid vir sy lewe), eerste handel tussen inheemse volkere en Europeërs (Diaz en Khoi). Dit is in hierdie eens plattelandse kusdorpie waar so baie eerstes plaas gevind het, waar daar herstel aan die gebeur is vir die Afrika kontinent. ‘n Versoeningsvergadering tussen nageslagte van die Afrikaner en Khoi het reeds plaasgevind om daardie antieke poort van bloedvergieting toe te maak in die geestewêreld. Die persoonlike woordvoerder van die Khoi koning en die Burgemeester van Mosselbaai, Raadsdame Marie Ferreira was hierby betrokke – die vryspraak was in die oorspronklike Khoi taal gedoen. 


Hierdie was die gevolg van die volhardende gebede van ‘n groepie intersessors wat sedert 2003 getrou hiervoor gebid het. Mosselbaai as plek van eerstes is dan ook die plek waaroor daar vir jare lank geprofeteer word dat herlewing hier gaan begin – volgens die profesieë begin ‘n vuur hier brand wat opbeweeg in die kontinent van Afrika. Ons agbare Burgemeester en haar Raad het dan ook toegestem dat die Harry Giddey Park van die dorp gebruik kan word vir geestelike byeenkomste. Daar was daar die afgelope 12 maande verskeie geestelike samekomste die park gehou. Die Burgemeester se droom van ‘n gebed kapel in die Harry Giddey Park moet nog bewaarheid word en is die verwagting dat sakemanne vorendag sal kom met die nodige fondse vir die bou van die kapel. Die stadspoorte van Mosselbaai is in die park gesetel met die tien Gebooie in Afrikaans, Engels en Xhosa, saam met verskeie Bybelverse, gegraveer in graniet, by die ingang na die park, ingelê. Die park het voorwaar tot sy reg gekom – ‘n plek van lof en aanbidding vir ons hemelse Vader. 

Mosselbaai moet vêrder op hierdie pad van geestelike ontwaking geneem word – die geestelike atmosfeer van die dorp moet verander. Die HERE God moet Sy regmatige plek in Mosselbaai gegee word. Mosselbaai moet ‘n plek met ‘n oop hemel wees, ‘n plek waarheen mense kan kom om God se stem te hoor, nie net die mense van Suid-Afrika nie, maar ook die nasies van die wêreld. Mosselbaai moet as sodanig in die buiteland bemark word en so mense hierheen nooi om te kom bid. Dit sal beslis die geestelike atmosfeer help verander sodat daar ‘n oop hemel oor die dorp kan wees


Ons gebede en intersessie fokus op herlewing op die Afrika kontinent. God het telkemale bevestig deur Sy dienaars dat Hy Afrika die kontinent van lig gaan maak. Reinhardt Bonke, die bekende Duitse evangelis se slagspreuk “All of Africa shall be saved” is besig om waar te word.  Ons in Mosselbaai skaar ons met God se visie vir Afrika deur te volhard in gebed totdat Sy heerlikheid hier uitgestort word.  Die wêreldleiers sien Afrika as ‘n swart bodemlose put en het mense min hoop vir die kontinent, MAAR NIE ONS HIER OP MOSSELBAAI NIE! Afrika met al sy minerale rykdom is ‘n verwaarloosde plek omdat dit in ‘n geestelike duisternis verval het. Hierdie duisternis kan net op geestelike vlak mee gedeel word en dit is deur gebed – volhardende 24/7 geestelike oorlogvoering is die oplossing vir hierdie mooi kontinent met sy mooi mense. Daar is die afgelope paar jaar ‘n oplewing in sulke gebed huise en is gebed aan die toeneem onder die nasies van die wêreld. In Suid Afrika het ons ‘n wonderlike getuienis van die transformasie wat gebed in ‘n dorp bring. Orange Farm in Gauteng het so ‘n getuienis, die misdaadsyfer in twee areas het tot nul gedaal binne die eerste drie maande van dag en nag gebed.


Daar sal beslis belangstelling onder Christene in die buiteland wees om ‘n vakansie-gebed toer na Mosselbaai te onderneem. Hulle gaan nie net hul gebede bring nie, maar ook hul kapitaal wat vir die dorp tot groot voordeel sal wees. Die tien gebooie wat in die poorte van die dorp ingelê is, is ‘n altaar soortgelyk aan dit wat God Moses beveel het om te doen: ’n Altaar van grond moet jy vir My maak, en daarop moet jy brandoffers en dankoffers; jou kleinvee en beeste, offer. Op elke plek waar My Naam sal laat gedenk, sal Ek na jou toe kom en jou seën.” (Eks. 20:24) Hierdie opdrag het hy ontvang net nadat hy die wet van God ontvang het. Met die wet van God in ons dorp se poort, wag ons ook op die vervulling van die seën van die belofte vir Mosselbaai en die res van die kontinent. Ons daaglikse altaar en offers is die intersessie wat geoffer word, want God se huis moet altyd ‘n huis van gebed wees!

Voortvloeiend vanuit so ‘n gebedsfokus sal Mosselbaai in die binne- sowel buiteland blootstelling as vakansiedorp kry en voorsien ons dat met die invloei van soveel Geesvervulde mense nie net die geestelike atmosfeer van ons dorp verryk sal word nie, maar ons talle gastehuise en besighede finansieel daarby kan baat. Mosselbaai kan internasionale status bekom as ‘n vakansie-rusplek waar jy na gees, siel en liggaam kan kom skep vanuit die fonteine van heil – ‘n plek waar mense God se stem kan hoor!!

 “…en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.” (2Kron. 7:14)

Vir meer inligting kontak: Paulus 084 707 2507 en Retha 072 345 6508 e pos: [email protected]

IN AANBIDDING

Dr, Bahjat Batarseh in verootmoediging tydens die seremonie waar Mosselbaai deur ons Burgemeester aan Jesus Christus gedurende Junie 2006 toegewy was


DIE WET VAN DIE HERE IN DIE STADSPOORTE

Burgemeester Marie Ferreira en Dr. Batarseh by die tien gebooie altaar in die Harry Giddey Park van Mosselbaai. Die stadspoorte van Mosselbaai is hier geleë