DANKDAG OP BRANDWAG
Inwoners van die Brandwag gemeenskap, is volgens Mnr. Harry Levendal, Onder Burgemeester van Mosselbaai, ’n bevoorregte gemeenskap wat in dankbaarheid kan terugkyk na hul nederige ontstaan tot waar hulle vandag is. Mnr. Levendal, oud onderwyser en gewese Skoolhoof van Brandwag Laerskool, het met die aansporing van die destydse Hoof, Mnr. Vernon Domingo, by die breër gemeenskap van Brandwag betrokke geraak. Die nood onder werkers wat vanaf plase uitgesit en sonder heenkome was, het hom aangespoor om iets daadwerkliks daarom te doen. Indien hierdie plaaswerkers uit die omgewing sou moes wegtrek, sou dit ’n onmiddellike effek op die kinder getalle van Brandwag gehad het. Die gevolg hiervan sou die toekoms van die skool nadelig beïnvloed en die groei van die gemeenskap geskaad het.
Die afgesette plaaswerkers het deur sy en andere se bemoeienis ’n heenkome gevind op die stuk grond wat bekend staan as die “Erwe” en aanleiding gevind tot die ontstaan van die plakkerskamp Mandela Square. Die eerste inwoners moes aan die privaat eienaars van hierdie grond maandelikse huur betaal totdat die grond deur bemiddeling van die N2 Rural Development Forum en Southern Cape Land Commitee tot volwaardige gemeenskap ontwikkel is. Mnr. Levendal het as koördineerder van hierdie grondhervorming proses opgetree. Gedurende 1995 is daar permanente erwe aan die oorkant van die pad aan inwoners toegestaan en met die R15000 huis subsidie per gesin van die staat, het 261 huishoudings hier ’n permanente woonplek bekom.
TOEKOMS VISIE: Brandwag is nie sonder toekoms visie nie en is daar heelwat in die vooruitsig. Die totstandkoming en vestiging van hierdie gemeenskap was net die begin. Werkskepping is die volgende fase van ontwikkeling wat deurgevoer word. ’n Plastiek Fabrieks aanleg is in ’n gevorderde stadium van beplanning en gaan daar vanuit hierdie ontwikkeling verskeie verwante ontwikkelings projekte voortvloei. Sportontwikkeling is ook hoog op die agenda. Brandwag Communal Property Association se bestuursraad onder die voorsitterskap van Mnr. Wesley Johnson sien om na die belange van al die inwoners van Brandwag.
DANKDAG: Sondag 21 Junie 2009 gaan daar dankie gesê word. Verskeie kerke het toegestem tot ’n gemeenskaplike diens op die sportgronde. Sondagoggend gaan die gemeenskap leiers saam met die inwoners van Brandwag vir die HERE dankie sê vir Sy barmhartigheid en getrouheid teenoor hulle. Daar gaan dankie gesê word vir die jare van genade, ook aan hulle wat so ’n groot rol gespeel het in die ontwikkeling van hierdie kosbare gemeenskap. Die verrigtinge begin om 9h00 op die sportgronde waartydens die Uitvoerende Burgemeester van Mosselbaai, Me Marie Ferreira die opening sal waarneem. Vir verder navrae skakel Mnr. Wesley Johnson 072 018 0485
Die gemeenskap van Brandwag, geleë 20 kilometer vanaf Mosselbaai op die Oudshoorn pad, het Sondag 21 Junie 2009 op die sportgronde byeen gekom om dankie te sê vir die Here vir hul onstaan en ontwikkeling wat tans daar aan die gang is. Die Brandwag gemeenskap het sy onstaan gehad te danke aan 'n direkte ooreenkoms wat die huidige Onder Burgemeester van Mosselbaai, Mnr. Harry Levendal, met die Here gedurende 1982 gemaak het. By hom het die gevoel onstaan om 'n dag van dank en gebed op die sportgronde te hou. Hier staan Harry Levendal saam met die Uitvoerende Burgemeester van Mosselbaai Raadsdame Marie Ferreira en Retha tydens die byeenkoms.
Die byeenkoms wat op Vadersdag plaas gevind het, was nie toevallig op Mnr. Levendal se verjaarsdag gewees nie. Die ontstaan van hierdie gemeenskap waarvan hy die vader is, was gepas gevier op sy verjaarsdag. Dit was die verbond wat hy met die Here gemaak het, wat aanleiding gevind het in die redding van die eens afgesette plaaswerkers. Hierdie het ook wye implikasies vir die laerskool op Brandwag gehad - dit het sy voortbestaan verseker. Hier wens die bestuur van die gemeenskap hom geluk met sy verjaarsdag. Is die Here nie getrou nie? Is Hy nie 'n God wat vir ewig getrou is aan dit wat Hy in die mens se hart gewerk het nie? Brandwag gemeenskap het op grond van 'n verbond tot stand gekom, en sal vanuit hierdie nederige begin iets moois ontwikkel wat vir die res van ons land tot voorbeeld sal wees.