Versoening en Restourasie
 

                    GOD SE PLAN MET DIE EERSTE NASIES
                                              DEUR PAULUS

 Het jy geweet dat God uit een bloed al die nasies van die wêreld gemaak het?  “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie;” (Hand. 17:26-27 AOV)

"Hy het dan ook die getal van die nasies vasgestel volgens die getal van die kinders van Israel." (Deut. 32:8)

Ek verstaan nie waarom daar nie meer gemaak word van die Israeli’s as volk van God nie, want hulle was, en is immers God se plan en patroon vir alle volkere. God het alle volke ‘n afgemete woonplek gegee, en soos met Israel, wil Hy hê dat alle nasies Sy aangesig moet soek, sodat Hy Homself in hul taal en kultuur kan verheerlik.

TYD VAN HERSTEL
Die tyd waarin on nou leef word in Jes. 58 beskryf: "En die wat uit jou voortkom, sal die ou puinhope bou; die fondamente van vorige geslagte sal jy oprig, en jy sal genoem word: Herbouer van gebreekte mure, hersteller van paaie, om bewoonbaar te maak. "(Jes. 58:12) 

Nou is die tyd vir die oprigting van verbond altare in ons huise, tyd waarin die fondasie nasies van die aarde verantwoordelikheid teen God sal openbaar en doen waarvoor Hy hulle in hul onderskeie woonplekke geplaas het. Israel is die eerste so 'n nasie, en moet die herstel wat daar plaas vind, oorloop na die nasies van die wêreld
 
Dit is my oortuiging dat indien ons die sending opdrag van Jesus in Matt. 18:29 wil uitvoer, ons dit meer effektief deur Israel sal kan doen. Dit is immers waar alles begin het, en alles weer gaan eindig. Israel is deur God geplant tot Sy lof en tot seën van die nasies en geen groter seëning kan daar vir hulle wees die oomblik wanneer Israel ons Messias Jesus Christus gaan ontvang nie? Dit is waarom ons intersessie toere na Israel onderneem. Ons staan oog teen oog saam met hulle totdat die blindheid van hul oë verwyder gaan word. Ons wat die volheid van die Heilige Gees het, is die enigste mense wat hulle kan help sien. Die wêreldleiers wil nie hê hulle oë moet oopgaan nie, hulle wil hulle vernietig as verbondsvolk van God want dan hoef hulle nie verantwoordelikheid aan die HERE te toon nie. Hulle wil die aarde op hul eie voorwaardes regeer en net aan hulself verantwoording doen. Dit is daarom dat die ganse wêreld uitsien na die koms van die valse Messias, die Antichris.

 GEPLAAS OM VERSKIL TE MAAK
So is ook ek en jy hier in Mosselbaai, en daardeur in Suid-Afrika geplaas, om Hom te gehoorsaam en daardeur te verheerlik. Ons is nie net maar hier omdat omstandighede dit so bepaal het nie. Nee, God het ons hier geplant om ‘n verskil te maak en vrug te dra. Ons is hier om te getuig van Sy grootheid, genade en liefde vir ‘n verlore gaande mensdom. Die rede waarom dit so beroerd in ons land gaan, is juis omdat God ons aandag soek. Hy wil hê ons moet verantwoordelikheid neem vir die geestelike atmosfeer van hierdie land en progresief saam daaraan begin werk, om dit onder die heerskapy van die Heilige Gees te kry. Ons moet nie landuit nie, ons moet landin beweeg en deur die salwing van die Heilige Gees donker Suid-Afrika met die lig van ons geheiligde lewens verlig. 

 Hoe op aarde gaan ons met dertien verskillende etniese groepe in SuidAfrika hierby uitkom? Dit gaan immers eenheid vereis, en hoe kan dit moontlik wees om so ‘n rasse-politiese en godsdienstige verskeurde nasie onder die beheer van die Heilige Gees te kry? Klink onmoontlik, maar nie indien jy God se hart vir nasies verstaan nie. God het in alle nasies, volke en tale Sy kinders. Daar is nie ‘n etniese groep op planeet aarde waar God se kinders nie is nie – al is dit net twee of drie, hulle is daar. Ons moet net die mure wat ons skei afbreek, en by mekaar uitkom - dit moet in my en jou se harte, hier plaaslik begin gebeur. Ons moet ons eenheid erken en nie op eendersheid fokus nie – eendersheid sal maak dat ons onredelike eise aan mekaar stel, terwyl eenheid ons in ‘n verhouding met mekaar gaan bring.

 EENHEID DEUR DIE GEES, BRING DIE VESTINGS WAT ONS VERDEEL AF.
Dit het my lank geneem om agter te kom dat ek nie meer vyande nodig het nie, maar meer vriende en het my gesindheid teenoor mense verander. Vir my is dit maklik om vyande te bekom en het ek deur die jare heelwat van hulle gehad. Ware vriende is moeilik om te bekom, daarom koester ek die wat ek het en bid gereeld vir nuwes. Ek het agtergekom ek kan nie alleen nie, en is daarom baie dankbaar dat daar ‘n liggaam is waaraan ek kan behoort – die Liggaam van Jesus Christus. Hierdie groep wedergeborenes het ook maar elk hul eie dinge waarmee ek moes versoen, maar ervaar ek beskerming tussen hulle. Dit is hierdie groep waarop ek my hoop stel vir die geestelike herstel van ons land, en bid ek gereeld dat ons mekaar in groter getalle sal opsoek en vind. 

 DIE LIGGAAM VAN JESUS
“Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.” (1Pe 2:9+10) Hierdie liggaam word ‘n nuwe volk genoem en is dit hierdie volk wat die verskil gaan bring. Elke Geesvervulde wedergeborene moet net by die regte identifisering van sy of haar identiteit uitkom en dit dan vasmaak aan hierdie liggaam. Hierdie heilige volk en koninklike priesterdom is ‘n uitverkore groep mense wat uit hierdie wêreld geroep is om ‘n verskil te maak, en is dit nou die tyd om op te treë. Net soos met Israel en die ander volkere, het God ‘n profetiese rol waarin ons as liggaam moet funksioneer – die profetiese funksie van verlossing. Op ons skouers rus dit om orde in ons landsregering te bring, daarom dring Paulus by Timoteus soos volg aan:

“In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid. Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.” (1 Timotheus 2:1-4 AOV)

 MOET VISIE VAN GOD Hê
Dit is wanneer kinders van die HERE, in geloof en gebaseer op die Woord van die HERE standpunt inneem, dat ons ‘n verskil begin te maak. Dit is wanneer ons gesamentlik God se visie vir ons land sien en verstaan, dat ons doelgerig in standpunt en gebed kan werk in die rigting van herlewing onder al ons mense van Suid-Afrika. Op hemelvaartdag  gaan ons weer marseer en is dit ons doel om God se kinders byeen te bring. Dit het tyd geword om vir mekaar te wys ons gee om vir ons dorp, ons land en die kontinent. Dit het tyd geword om halt te roep vir die wat op die punt staan om die land te verlaat. Dit het tyd geword om ons vertroue in die HERE gesig te gee deur ons openlik te skaar in die geloof dat Hy ‘n hoopvolle toekoms vir ons land het. Die afgelope sewe jaar word daar 24/7 deur verskeie groepe in die land gebid en is daardie saad besig om te ontkiem. Jy moet jouself net nie blind staar teen hoë brandstof pryse, hoë misdaad en alles wat hoog is nie, daar is meer positiewe dinge aan die gebeur as al hierdie hoë goeters. Ek is baie bemoedig deur wat daar tans met verskeie prominente politici aan die gebeur is, en weet hierdeur dat God in beheer is.

 “Staan op, staan op vir Jesus, o helde van die kruis” is wat ons vir mekaar moet sing, en nie swig voor die baie negatiwiteit waarmee die pers en nuusmedia ons daagliks peper nie. Ons moet saam met die HERE werk, want Sy einde is altyd opwindend en oorwinnend. Kom saam met ons en aanskou hoe die heerlikheid van die HERE die aarde oordek, soos die water van die see die seebodem oordek.

 

 

 

 




Leave a Reply.

    PAULUS

    Ek en my vrou Retha is gebed-koödineerders en betrokke in geestelike versoening-aksies tussen volkere. "Gaan dan heen en maak dissipels van alle nasies..." 

    Ons is woonagtig op Mosselbaai aan die Suid Kaap en reik van hier uit onder die naam
    "Mosselbaai Huis van gebed vir die Nasies."





     

    Archives

    November 2010
    February 2009
    January 2009

    RSS Feed